Plasing oor honger kinders is vals
’n Boodskap wat die rondte doen oor kospakkies wat deur die polisie weggevat is by Sonheuwel Karavaanpark naby Bonaccord, is vals.
Die boodskap is deur verskeie persone op sosiale media gedeel en het foto’s van verhongerde kinders bevat. Die foto’s is egter nie van Suid-Afrikaanse kinders nie maar het in ’n Nederlandse berig van Unicef oor kinders in oorloggeteisterde gebiede verskyn.
www.mobserver.co.za is oorval deur lesers wat meer inligting oor die berig wou bekom. ’n Plaaslike pastoor wou met optrede begin.
Pat Snyman, een van die mense wat volgens ’n skermskoot die nuus gedeel het, het op sy Facebook profiel ontken dat hy dit gedeel het en beweer dat daar ‘snaakse dinge’ op sy profiel aan die gang is. Hy het nie voor druktyd gereageer op ’n versoek vir kommentaar nie.
Phillip Bruwer van Solidariteit – Helpende Hand sê dat hulle ook die oorsprong van die boodskap probeer naspoor het, maar onsuksesvol was.
Die DA het in ’n persverklaring bevestig dat dit vals nuus is. In die verklaring word daar gesê dat ’n skenker wel verhoed is om kospakkies uit te deel, omdat hulle nie die regte permit gehad het nie. Die polisie het nie die kospakkies gekonfiskeer nie en is in die proses om die skenker te help om ’n permit te bekom.
Mnr. Bruwer sê dat geen van Helpende Hand se vrywilligers al verhoed is om kos uit te deel nie.
“Ons het almal die regte permitte en hou by die reëls. Ons deel ook nie warm kos uit nie maar eerder nie-bederfbare kos,” sê mnr. Bruwer.
Hy sê dat daar wel toenemende kommer heers omdat die wetgewing al hoe meer verander word en dreig om te reguleer hoe en waar kos uitgedeel mag word. Mnr. Bruwer meen dat hulle liefs pro-aktief wil optree en reeds regsmening ingewin het, sou hulle later hulself noodgedwonge tot die hof moet wend.
Hy sê dat hulle van twee gevalle weet, een in Krugersdorp waar lede van ’n spesifieke politieke party na bewering sop uit mense se hande geklap het, en een in Bloemfontein waar die polisie ’n sopkombuis verhoed het om sop uit te deel.
In beide gevalle was daar egter ’n dispuut oor warm kos betrokke, sê mnr. Bruwer.
Hy het nie-winsgewende organisasies, wat oor die regte permitte beskik en verhoed word om kos uit te deel, versoek om met Helpende Hand in verbinding te tree deur ’n e-pos te stuur na diens@helpendehand.co.za vir bystand deur hul regspan.
