Weermag hou besighede dop
Onsuksesvolle werkloosheidsversekeringseise, beweerde onwilligheid vir die uitstel van munisipale rekeninge en dreigemente deur raadslede. Dit is die klagtes van talle kleinmansake.
• ’n Koffiewinkeleienaar sê hy het tou opgegooi na die vyfde probeerslag om vir sy mense werkloosheidsversekering te eis. Hy beweer ook dat die munisipaliteit nie te vinde was vir uitstel op sy rekening nie en dat hy gedreig is dat hy nie elektrisiteit sal kan koop, as hy nie sy besigheidserfbelasting betaal nie.
• Nog ’n besigheidseienaar, wat ’n wassery op die dorp besit, sê dat sy vir ure by die munisipaliteit moes wag om aansoek te doen vir ’n permit, net om op die oueinde afgekeur te word. Dit ten spyte van getuigskrifte van dokters en mynwerkers wat sê dat hulle sukkel om sonder haar dienste klaar te kom.
Sy sê dat sy elf mense in diens het wat vir die afgelope vyf weke geen inkomste verdien het nie. Sy het haar ook keer op keer in ’n toe deur by die werkloosheidsversekeringsfonds vasgeloop.
Sy beweer dat sy eers ingelig is dat die identiteitsnommers van haar werkers foutief is en later dat die bankrekening wat sy verskaf het nie aktief is nie.
“Maar dit is dieselfde identiteitsnommers waarop ek maand vir maand werkloosheidsversekering betaal en dieselfde rekening waaruit hulle elke maand hul geld ontvang,” sê die vrou.
Intussen is daar op sosiale media platforms advertensies van wasserye wat sedert 4 Mei weer hul deure oopgemaak het.
Die Middelburg Observer het met Pressed in Time in die Middelburg Mall gepraat. Die eienaar sê dat sy nie aansoek gedoen het vir ’n permit nie, maar dat Vlak 4 van die inperking haar as noodsaaklike diens klassifiseer. Dit is ook nie net in Middelburg wat sekere wasserye hul deure weer oopgemaak het nie, die vrou sê dat sy advertensies sover as Nelspruit en Kriel gekry het.
“Ek het ’n permit wat my as noodsaaklike diensverskaffer klassifiseer, ek het getuigskrifte van dokters se spreekkamers en mense wat op myne werk wat sê dat hulle my dienste broodnodig het, maar die polisie het gesê ek durf nie my besigheid oopmaak sonder permitte van die munisipaliteit nie. Dit voel net asof die reëls nie vir almal geld nie.”
• ’n Ander besigheidseienaar sê dat hy deur lede van ’n sekere politieke party besoek is en gedreig is dat as hy nie hulp aan hulle bied nie, hulle paaie sal toemaak en sy besigheid sal bemoeilik. Sy besigheid deel onafhanklik by verskeie plekke in Mpumalanga en Limpopo kospakkies uit. Hy wou uit vrees nie sy naam genoem hê nie.
Nog ’n besigheidseienaar in die Middelburg Mall, wat ook uit vrees vir viktimisasie nie haar naam genoem wil hê nie, sê dat lede van die weermag hulle soos valke dophou en seker maak dat hulle net noodsaaklike items verkoop. Sy is tot deur weermaglede gevolg na ’n ander winkel waar sy iets moes gaan aankoop.
• Die eienaar van ’n tuindienste besigheid sê dat sy Maandag ’n permit kon kry om te werk maar R1 600 moes betaal daarvoor. Die rekeningafdeling by die munisipaliteit was gesluit en sy kon nie die geld betaal nie. Sy is egter kort daarna ingelig deur middel van ’n stemboodskap van ’n munisipale amptenaar dat sy nie mag werk nie, omdat hulle nie mense se erwe mag binnegaan nie.
“Kan hulle nie net vir ons een week gee nie? Die blare lê nog van die haelstorm af in die tuine. Daar is oumense wat nie hul eie gras kan sny nie. Ons sit nou al vir vyf weke sonder werk en die winter is om die draai, dan kanselleer mense gewoonlik hul tuindienste. Ons gaan doodgaan van die honger,” het die vrou paniekbevange gepleit.
Sy het ook gedreig dat selfmoord vir haar al hoe meer na die enigste uitweg lyk. Sy is ’n weduwee sonder kinders wat op die tuindienste besigheid staatmaak vir ’n inkomste vir haarself sowel as haar werkers.
• Prudence Magutle, munisipale woordvoerder by Steve Tshwete Munisipaliteit, sê dat die koffiewinkel eienaar geregtig is om vir uitstel op rekeninge te vra, maar dat hy dit nie by die dienstesaal moet vra nie omdat hulle nie by magte is om hom te help nie. Sy het aangeraai dat hy na die brandweer gaan of 013 249 7344/48 of 49 bel om geholpe te raak.
-Sy sê dat sy bewus is dat daar onduidelikheid is oor wasserye en of hulle mag oop wees of nie en het onderneem om aandag aan die situasie te skenk.
Oor dreigemente van raadslede sê me. Magutle dat daar streng opgetree sal word indien hulle met bewyse voorsien word. Sy sê dat hulle besighede aangeraai het om alle skenkings na die Banketsaal te bring waar dit verpak en dan sistematies uitgedeel word onder behoeftiges.
“Die myne het baie positief gereageer en ons kon al baie behoeftige gesinne help. Gesinne word gesif om seker te maak dat hulle werklik behoeftig is en hulle besonderhede word op ’n databasis bygevoeg om kontrole te vergemaklik,” het sy verduidelik.
Sy sê dat skenkers ook saam kan gaan as die pakkies uitgedeel word om te sien waar dit opeindig.
Me. Magutle sê dat tuindienste nie op hierdie stadium toegelaat kan word nie, omdat besoeke aan huise nog verbode is. Hulle mag wel tuinrommel oplaai en verwyder. Sy sê dat daar nie vir permitte betaal hoef te word nie, mits die besigheid nooit by die munisipaliteit geregistreer was nie en dit nou eers moet doen voordat hulle vir ’n inperkingspermit kan aansoek doen.
Sy sê dat hulle kan reëlings tref in noodgevalle, dieselfde as wat diensverskaffers sou doen in die geval van as ’n huis se dak sou lek en dringend aandag kort.
