NIE VIR SENSITIEWE KYKERS: Skape versmoor tydens massa slagting
Verskeie skape het versmoor toe veediewe hulle bo-op mekaar in ’n gat gegooi het, terwyl hulle besig was met ’n massa slagting.

Daar word al hoe meer protes teen plaasmoorde gemaak. Aanvalle op plase is egter nie net tot gewapende rooftogte op mense beperk nie. Die ekonomiese aanslag van diefstal, veral van vee, word al hoe groter.

Daar is die afgelope naweek 140 skape gesteel by een boer in die Belfast omgewing. Die skape is vroeg Saterdagoggend te voet aangejaag vir minstens 20 kilometer voordat die stomme diere in ’n afgeleë plek gevang en vasgemaak is, terwyl diewe met ’n massa slagting begin het.
Boere en die polisie wat na die skape gesoek het, het op die slagplek afgekom. Daar was tekens dat die diewe snuf in die neus gekry het en net betyds gevlug het.

Volgens inligting van ’n bron wat op die toneel was, is 51 skape reeds geslag of dood. Agt karkasse was reeds weggery en 89 skape is lewendig teruggevind.
Die beraamde skade van die diere wat reeds geslag is of versmoor het beloop R127 500.
Daar is op hierdie stadium nie enige arrestasies gemaak nie.

• Daar is verlede jaar in April berig oor hoe agt Senepol beeste agter in ’n Mercedes paneelwa gevind is nadat die voertuig naby Nelspruit sonder brandstof gaan staan het.
Die beeste het mekaar agter in die wa vertrap en een moes deur die Dierebeskermingsvereniging vankant gemaak word. Die paneelwa behoort aan ‘n slaghuiseienaar in Kanymazane, tussen Nelspruit en Malelane.
• In Augustus 2019 is vier verdagtes gearresteer, nadat boere hulle vasgetrek het in ’n hoëspoed jaagtog. Dit nadat agt beeste op twee piepklein waentjies ingedruk is en deur twee bakkies gesleep is.
Lees ook: Koeie wreed doodgetrap na veediewe hulle saam op waentjie druk
Drie koeie is doodgetrap, terwyl nog een haar been gebreek het en ’n derde koei lam was. Boere het destyds gesê dat dieselfde diewe wat by die Mercedes paneelwa voorval in April betrokke was ook by die Augustus arrestasie betrokke was.
Hulle kla dat veediewe gevang, in die hof verskyn en bloot ’n boete opgelê word, voordat hulle weer vrygelaat word.

