News

‘Blondekoppie’ en boeties twee jaar terug ook op hoofweë

Dit is nie net die laaste maand wat motoriste die blondekopdogtertjie en haar pa op die N4 sien nie!

Twee jaar gelede het ’n gesin wat hulle langs die pad gekry het, hulle vir maande ondersteun.

“Hulle eksploiteer al lank daardie kinders vir hul eie gewin!” het ’n vrou (wat vra om anoniem te bly) gesê.

Sy vertel hoe daar vir die man ’n fiets en werk gereël is en hulle het ’n splinternuwe yskas en mikrogolf vir die gesin gekoop.

“Die yskas en mikrogolf het hulle aan werkers by die plek verkoop waar hulle gebly het, voor hulle weg is.”
Hul pad met die egpaar en kinders het vroeg in 2018 gekruis.

Die vrou sê sy was vanaf die Middelburg Mall op pad terug na eMalahleni, waar hulle bly, toe sy die man en vrou met die blondekop kleuter en ’n baba op die ma se heup, langs die pad kry.

Lees ook: Blondekoppie spook by paramedikus

Sy het hulle ’n geleentheid aangebied.

“Hy het gesê hy het sy werk verloor op Kuruman, dat hy werk soek en ’n ketelmaker is. Hulle het gesê hulle is op pad Highveld Mall toe.”

Die vrou het hul besonderhede gevat en het hulle afgelaai. Sy was só bekommerd oor hulle, veral die kinders, dat sy vanaf haar huis weer omgedraai en hulle weer gaan oplaai het by die Highveld Mall.”

“Ek het doeke gekoop vir die baba en ’n pop vir die dogtertjie en hulle gaan aflaai waar hulle gebly het.”
Daarna het sy gereeld vir hulle kos gevat.

Lees ook: Blondekoppie se ma praat

“Ek het hom weer daarna met die blondekoppie langs die pad gekry, hom opgelaai en aangespreek omdat hy die kind gebruik om hul sleutelhouers te verkoop en geld te kry!”

Die vrou vertel dat die man, toe sy hom opgelaai het, vir haar vertel het dat die polisie hom ook al opgelaai en aangespreek het omdat hy die dogtertjie saam met hom laat loop.

“Hulle het vir hom gesê dat die kind maklik ontvoer kan word.”

Intussen is sy laat weet dat ’n ander vrou hom opgelaai het en dat hy werk gekry het op Middelburg.

“Hulle het tot vir hom ’n fiets gekoop om by die werk te kom. ’n Ander maatskappy het betaal dat hulle in ’n groter plekkie kon intrek op die perseel waar hulle nou ook weer is.”

Sy onthou hoe hulle op ’n maandelikse basis gereeld kos gevat het en in hierdie tyd ’n splinternuwe yskas en mikrogolfoond vir die gesin gekoop het.

In hierdie tyd het sy ’n ander man, met twee pragtige klein seuntjies, eendag by die Hendrina afrit opgelaai. Hy het presies dieselfde storie as die ander egpaar vertel, maar sy het niks gesê nie.

Lees ook: Motoris ontsteld oor ‘blonde krulkoppie wat so dors was’

Sy het hom gaan aflaai waar hy bly en het hulle besef dat die twee families langs mekaar bly! “Ek dink dit was die man se broer wat ook sy twee seuntjies gebruik het om geld of rygeleenthede te kry. Ek het hom nie weer gesien nie, want die twee families het blykbaar stry gekry en is hulle weg.”

In die tyd wat hulle die egpaar gehelp het, het hy hulle skielik laat weet dat sy pa dood is en dat hy dringend moet Gordonsbaai toe.

Die vrou sê hulle het aangebied om vir hom ’n buskaartjie vir die begrafnis te betaal, maar hy het aangedring dat sy hele familie gaan en hulle het ’n geleentheid vir die hele gesin Gordonsbaai toe gekry (waarvoor hulle ook betaal het).

Sowat ’n week later was almal terug. Die man het laat weet dat sy kinders sy pa se plot op Gordonsbaai geëerf het en dat hulle soontoe gaan trek.

“Hy het sowaar probeer om die depositogeld wat die een maatskappy vir hul groter blyplekke destyds betaal het, vir homself te vat!”

Sy het nie weer van hulle gehoor nie, tot sowat ’n maand gelede toe sy oor die brug ry op pad na die Highveld Mall.
“En wie loop oor die brug? Die ma, pa, twee seuntjies, die blondekoppie en die baba!”

Verlede Vrydag het sy op die N4 gery en al ses (egpaar en vier kinders) oor die middelman tussen die twee Ultra City’s op die N4 sien loop.

“Ek wéét hulle is baie lief vir die kinders, want ons het hulle lank gehelp, maar dit is nie reg van hulle om die kinders so te gebruik om op mense se gevoel te speel, om geld te kry nie. Ek kry die kinders so jammer en dis presies wat almal voel wat hulle help.”

 

 

*Kennisgewing: Koronavirus verslaggewing deur Caxton Local Media poog om fopnuus te kniehalter

Beste leser,

As jou plaaslike nuusverskaffer is dit ons plig om jou ingelig te hou van alle feite rakende COVID-19. Baie fopnuus doen die rondte aanlyn. Caxton Local Media werk gedetermineerd deur massas beskikbare inligting met die doel om waarheid van leuens te onderskei. Sodoende hou ons jou ingelig.

Ons plaaslike nuuskantore volg ‘n streng protokol wanneer dit kom by nuuswerwing en publikasie. ‘n Nasionale taakspan is daargestel om seker te maak dat jy geloofwaardige nuus oor die koronavirus kry.

Lesers met navrae of kommentaar kan ons nasionale groepredakteur, Irma Green (irma@caxton.co.za) of regsadviseur Helene Eloff (helene@caxton.co.za) kontak.

Het jy ’n nuuswenk?

Skakel ons redaksiekantoor op 013 243 1434 of ons bystand nommer, vir noodgevalle na werksure, by 072 248 3855 om jou storie met ons te deel.

Volg ons op die Middelburg Observer Facebook groep of blad of stuur ’n whatsapp na 072 248 3855 met die woorde “add me” vir nuusflitse en ander relevante nuus.

 

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button