’n Driejarige se ‘ware’ feëverhaal
Hierdie storie sal almal weer soos ’n kind in feëtjies laat glo, want hierdie dogtertjie se feëverhaal droom is vir haar bewaarheid. Nie net het sy die “Queen” ontmoet nie, maar ook ’n kroon by haar gekry én ’n teepartytjie saam met haar gehou.

En alles het hier in die hartjie van Middelburg gebeur!
Dit sal dalk vreemd klink, maar alles het begin en geëindig by staatmakers van die Vrouelandbou Unie.
Maar kom ons begin by die begin.
“Eendag lank, lank gelede….”, (nee man, dit was net nou die dag), het drie vriendinne van die Magrietjie VLU, Engela Thompson, Cindy Coetzee (President, Mpumalanga VLU en lid van die Magrietjies) en Anna-Marie Venter gaan kuier by die Leeukliptak.
Saam met hulle was Engela se dogter, Kaylene Visser, en haar kleindogter, die driejarige Lexi.
Op pad terug vra Cindy vir Engela of sy al ooit op die geskiedkundige Botshabelo was en Engela, wat redelik nuut is op Middelburg, sê nee, sy sal graag wil gaan kyk hoe dit daar lyk.

Juffrou Lexi het op agtersitplek gelê en slaap.
“Toe Cindy voor die Botshabelo kerkie stop, skrik Lexi wakker, vlieg op, sien die “Castle” voor haar en gil dat die Queen daar binnekant is,” vertel ouma Engela. Sy het uit die kar uit gespring, teen die trappies opgehardloop en aan die deur geklop, maar niemand het oopgemaak nie.
Die vroue het vir haar die deur oopgemaak en in die kerk ’n preek vir die dogtertjie gedoen en ook gewys hoe die doopvont werk.
Hulle het intussen alles probeer om haar aandag weg te kry.
Buite het sy begin huil, want sy wou hê dat die “Queen” wakker gemaak moet word. Ouma Engela het vir haar verduidelik die luike is toe en die “Queen” slaap en dat hulle haar anderdag sal ontmoet.
So is klein Lexi al huilende huistoe.
Cindy het egter vir Engela gesê “dat jy nie vir ’n kind iets belowe en dit nie doen nie.”
’n Paar weke later het Lexi weer vir haar ouma kom kuier.
Dié keer was ouma Engela en Cindy reg vir haar.
Cindy het ’n tafel vir ’n teepartytjie by haar gastehuis (waar die Magrietjie VLU gewoonlik ontmoet vir vergaderings) in die tuin gedek vir haar eie kleindogters, Mia-Nette (4) en Karli-Me Coetzee (2), Lexi en die ‘Queen’.
Sy het ook haar skoondogter, Jo-landri Coetzee, gevra om vir hulle die oggend as “Queen” op te tree. In haar mooiste rokkie het Lexi in spanning gewag vir die “Queen” om op te daag.
“Lexi het altyd gesê, ‘onthou net, die Queen het ’n verskriklike groot kroon’. Ons het besef dit moet ’n ordentlike kroon wees, anders gaan ons haar nie flous nie, want sy is ’n baie intelligente kind,” sê Engela.
Gelukkig was Jo-landri in 2019 Mev. Middelburg en in 2020 Mev. Nkangala Internasionaal en kon een van dié pragkrone ingespan word. Om nóg meer luister aan die prentjie van ’n regte koningin te bring, het Jo-landri sommer haar trourok aangetrek vir die geleentheid.
“Die oomblik toe Lexi haar tussen die bome sien aankom, toe hardloop sy die ‘Queen’ tegemoet. Nóg ’n hoogtepunt was natuurlik toe die ‘Queen’ vir Lexi ook ’n kroontjie van haar eie op haar koppie sit!”
Al waaroor die kleine Lexi teleurgesteld was, is waarom die “koning” dan nou nie saam met die “Queen” gekom het nie!
“En so is ’n ou klein dogtertjie se droom deur VLU vriendinne verwesenlik. Sy kon nie Maandag vinnig genoeg by die kleuterskool kom om vir almal te vertel dat sy die Queen ontmoet het nie. Natuurlik wou niemand haar glo nie, maar kon haar mamma darem met al die foto’s wys dat Lexi nie net gedroom het nie, maar dat sy ‘regtig’ binne in die sprokie was.” 
Do you have a news lead? Contact our editorial office on 013 243 1434 or our standby number for emergencies on 072 248 3855 to share your story with us. Follow us on the Middelburg Observer Facebook group or page or send a WhatsApp to 072 248 3855 with the words “add me” for the latest news. Notice: Coronavirus reporting at Caxton Local Media aims to combat fake news Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Caxton Local Media is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19. Readers with any comments or queries may contact National Group Editor Irma Green (irma@caxton.co.za) or Legal Adviser Helene Eloff (helene@caxton.co.za).
