Baba sterf in N4 ongeluk naby Belfast
’n Baba het op ’n ongelukstoneel gesterf en ’n man is met sy aankoms by die Belfast Hospitaal dood verklaar, na ’n botsing gisteraand naby die Eerstelingsfontein afdraai.
’n Baba het op ’n ongelukstoneel gesterf en ’n man is met sy aankoms by die Belfast Hospitaal dood verklaar, na ’n botsing gisteraand naby die Eerstelingsfontein afdraai.
Dié ongeluk was een van talle gister in die Belfast omgewing.
• Die eerste ongeluk was net na 12:00 op die N4 naby die Wimpy. Alhoewel dit die verkeer laat ophoop het, is niemand ernstig beseer nie.
• Omstreeks 15:45 is daar op noodgroepe gesê dat daar “liggame op die pad lê” na ’n trompop botsing op die Belfast/Dullstroompad. Die ongeluk het sowat 20km buite Belfast gebeur en sewe mense, waarvan een ernstig, is in dié ongeluk beseer. Na wat verneem word het albei voertuie die pad verlaat na die botsing en is van die mense uit die voertuie geslinger.
• Verkeer was vanaf 19:15 tot omsreeks 22:00 ontwrig na ses ongelukke op die N4 tussen Paardeplaats en Eerstelingsfontein.
Die eerste ongeluk was om 19:15 en volgens alle aanduidings het ’n Audi, wat van Middelburg se kant af gekom het, op die lang draai net na Eerstelingsfontein beheer verloor.
Die voertuig het in die swaar verkeer, wat in Middelburg se rigting onderweg was, ingeploeg. In die daaropvolgende botsing is ’n voertuig van die pad af geslinger en het dit in ’n sloot op sy dak te lande gekom.
’n Babaseuntjie (tussen die ouderdom van een tot twee jaar), wat in die voertuig was wat op sy dak gelê het, is op die toneel dood.
Met die geweldige slag is die Audi se enjin uitgeruk en het ’n ander voertuig die enjin getref, wat tot gevolg gehad het dat nog drie of vier karre gebots het. Vyf mense is ernstig beseer op hierdie toneel en ’n man is met sy aankoms by die Belfast Hospitaal dood verklaar.
Noodspanne was nog besig op dié ongelukstoneel, toe daar net sowat 500m verder nóg ’n ongeluk plaasvind waarin twee trokke en drie karre betrokke was. Niemand is ernstig beseer nie.
Omdat die verkeer heeltemal tot stilstand gedwing is, het daar nóg drie ongelukke plaasgevind in die area tussen Eerstelingsfontein en Paardeplaats.
• Omstreeks 23:00 is daar op groepe laat weet dat die pad oop is vir verkeer.
• Vanoggend omstreeks 08:00 was daar ’n ongeluk bokant Bothasberg (Stoffberg/Middelburgpad) in die Stoffberg omgewing, waar ’n voertuig gerol het. Twee persone is lig beseer en een persoon is na die Life Midmed Hospitaal afgevoer.
