Kat se oog uitgeskiet
’n Vriendelike huiskat se oog moes verwyder word nadat hy in die oog geskiet is.
’n Vriendelike huiskat se oog moes verwyder word nadat hy in die oog geskiet is.
“Help ons asseblief om hierdie wrede mense te identifiseer!” het mnr. Barries Barnard ontsteld vir www.mobserver.co.za gesê.
Hul kat, Olof, se oog is Dinsdag deur die veearts verwyder “om hom meer pyn en lyding te spaar”.
Met hul aankoms Vrydag by hul huis in Pilansbergstraat (Aerorand), het Olof se oog gebloei en hulle het gesien daar is fout en hulle het die hele langnaweek die ogie gedokter.
Teen Dinsdag is hulle veearts toe, wat hulle meegedeel het dat dit heel moontlik ’n skietwond is, omdat die oog gebars het en die binnekant uitpeul na buite toe.
Die veearts het vir hulle gesê dat die oog vol bloed is en dat die kat in erge pyn is. Die enigste opsie was om die oog te verwyder.
“Ek is woedend en is bereid om ’n beloning te gee as ons die skuldiges kan vastrek!” het mnr. Barnard gesê. Hulle is nie die enigste inwoners in Aerorand wie se kat geskiet is nie.
• Nadat mnr. Barnard daarvan melding gemaak het op noodgroepe, het die Van Tonder gesin besef dat hul kat, Simba, ook in die oog geskiet moes gewees het.
Hulle bly naby mnr. Barnard in Bosbergstraat. Hulle het die kat die oggend van 21 Februarie dood in hul motorhuis gevind. Die kat se oog was uit en daar was baie bloed.

• Me. Suska Watts, wat in Droëbergstraat bly, sê haar kat, Luke, is al twee keer die afgelope maand met ’n windbuks geskiet. “Ek wil daai man ook kry!” het sy kwaad gesê.
Luke is sowat ’n maand gelede in die bors en ’n week en ’n half gelede in die rug geskiet.
• Me. Adél Smit sê sy het al nege windbukspatroontjies in haar erf in Droëbergstraat gekry. Sy kan ook hoor wanneer die skote afgevuur word. In haar geval skiet die booswigte na haar bokkie hondjie as hy blaf.
“Ek het twee jong seuns! Wanneer word een van hulle in die oog getref! As mense ’n probleem het met my honde, kan hulle na my huis toe kom en met my praat. Hoekom moet hulle op my honde skiet?”
Sy het dit duidelik gestel dat sy “dit verder gaan vat” as sy uitvind wie die skuldiges is.
