News

Plaasaanvallers hou egpaar met hamer en byl aan

’n Egpaar is gisteraand deur plaasaanvallers met ’n hammer en byl aangehou.

’n Egpaar is gisteraand deur plaasaanvallers met ’n hamer en byl aangehou.

“Ek was nog besig om boodskappe op my foon te antwoord, toe ons die slag hoor en die volgende oomblik toe staan hulle in die kamer met die hamer en die byl,” vertel me. Corrie Hart van die traumatiese gebeure.

Me. Hart (55) sê dat hulle vroeg in die aande gaan inkruip, omdat daar nie krag op die plaas Klipfontein (Spitskop area, 10km buite Belfast) is nie. Hulle maak gebruik van ’n kragopwekker.

“Ons gaan slaap so teen 19:00 en het net gelê toe hulle die deur oopskop.” Me. Hart het probeer opvlieg maar die booswig het vir haar in Afrikaans geskree: “bly lê!” en haar vasgemaak aan die bedkassie.

“Hulle wou my man, Hendrik, ook vasmaak, maar hy het ’n aanval, wat gelyk het soos ’n hartaanval, gekry en hulle het hom uitgelos.”

Me. Hart sê hulle het haar gevra waar die bakkie se sleutels is en sy het vir hulle verduidelik dat dit op die kombuiskas lê. Hulle het ook hul selfone gevat en het met die bakkie gery.

Volgens me. Hart het hulle ook weggekom met die kragopwekker, ’n Tablet, ’n batterylaaier, haar beursie, hul ID’s en ’n waterpomp.

“Die bakkie is stukkend, maar hulle het net so met hom gery.”

Nadat die boosdoeners weg is, het me. Hart onthou dat daar ’n ou selfoon in haar laai is sonder ’n simkaart. “Ek het al gehoor dat hy in ’n noodgeval sonder ’n simkaart die noodnommer kan bel en het ek gelukkig deurgekom, waarna hulle my deurgesit het na die Belfast Polisie.”

Met die polisie se aankoms het mnr. Hart al begin beter voel. Sy glo dat hy ’n aanval van skok gekry het.

“Ons hondjies, Buksie en Waggies was by ons in die kamer. Hulle het die hele tyd geknor.”

Me. Hart glo hulle is dopgehou. “Ons is nog besig om alles reg te maak, want die huis het die afgelope ses jaar leeg gestaan.”

• Sy onthou dat die rowers balaklawas gedra het. Die een het ’n rooi balaklawa aangehad en die ander een ’n grys balaklawa.

• Die egpaar se bakkie wat geroof is, is ’n wit Nissan Hardbody (met raam, sonder ’n agterklap), registrasienommer FKC134MP.

• Sers. KC McDonald (woordvoerder, Belfast Polisie) sê enige persoon wat die bakkie opmerk, kan speur-sersant Abram Mailula bel by 013 253 1688 of 082 435 8148.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button