Vier meter luislang vang rooibokkie
’n Viermeter lange luislang het Saterdag in die veld op Kranspoort ’n penkop rooibokkie (sowat twee jaar oud) gevang.

’n Viermeter lange luislang het Saterdag in die veld op Kranspoort ’n penkop rooibokkie (sowat twee jaar oud) gevang.
Me. Bes van der Westhuizen (inwoner van Kranspoortdorp) sê hulle het omstreeks 13:00 afgekom op die luislang in die veld. Dit is in die area vanaf Swartbaarstraat, tot by die laagwaterbruggie waar die voetslaanpad begin
. 
“Ons het ’n blaasgeluid gehoor en gesien die hele trop rooibokke blaas gelyk.” Kort daarna het hulle die luislang gesien. Hulle wou nie die luislang pla nie, omdat hulle bang was hy bring sy kos uit en het me. Van der Westhuizen hom vinnig met haar selfoon afgeneem. 
Later die dag het haar man weer gaan loer en gesien dat die bokkie al halfpad ingesluk is.
Kort voor donker was die hele bokkie ingesluk. Me. Van der Westhuizen het verneem dat die slang nou vir omtrent drie maande sonder kos kan klaarkom met dié groot prooi wat hy gevang het.
• Sy sê die slang bly daar in die omgewing, want hulle het hom verlede jaar ook gesien en toe kon hulle uitmaak dat hy sowat vier meter lank is.

