Weduwee in moordraaisel na hof vir beskermingsbevel
Die sage rondom die moord van professionele jagter, Raymond Papapavlou, sal more (Vrydag) ’n ander kinkel in die Bronkhorstspruit Landdroshof kry waar Papapavlou se weduwee, Simoné, se aansoek om ’n permanente beskermingsbevel teen ’n familielid van haar vermoorde man aangehoor sal word.
Papapavlou is Sondag 4 Oktober dood in sy bed aangetref met verskeie skietwonde. Hy is een maal in die kop en vier maal in die bolyf getref.
Simoné wat glo in die sitkamer reg langs die slaapkamer waar Papapavlou vermoor is geslaap het, het na die skote op haar man, self sewe “waarskuwingskote” afgevuur.
Slegs haar 9mm patroondoppies is glo in die moordhuis gekry.
Patricia Ray-Lee Smith, ’n kennis van die egpaar, is kort na die moord in hegtenis geneem.
WhatsApp boodskappe tussen Smith en Simoné dui daarop dat die twee meer as net vriende was.
Vriende het bevestig dat Simoné voor die Papapavlous se troue, aan hulle erken het sy is biseksueel.
In hofdokumente na Smith se arrestasie, is Simoné as verdagte in haar man se moord aangedui. Sy is egter nog nie formeel van enige misdaad aangekla nie.

’n Tydelike beskermingsbevel is op 1 April teen Papapavlou se oom, Japie Jonker, in die Bronkhorstspruit Landdroshof uitgereik volgens dokumantasie in www.mobserver.co.za se besit.
Hy sou op 5 Mei in die hof daar moes verskyn om ’n permanente bevel teen hom te beveg. Die hofdatum is egter op aandrang van mnr. Jonker na more, 16 April, vervroeg.
Volgens die voorlopige bevel mag mnr. Jonker Simoné nie “aanrand, beledig of intimideer nie”. Hy mag haar ook nie “emosioneel afkraak nie”.
Mnr. Jonker mag ook nie naby Simoné se huis in Bronkhorstspruit kom nie, en hy mag haar ook nie direk of indirek deur derdepartye kontak, of enige negatiewe stellings oor haar maak op enige forum nie. Sy wapens is ook voorlopig deur die polisie gekonfiskeer.
Smith en Papapavlou het vir Jonker op sy plaas gewerk.
Mnr. Jonker het na die moord ’n R50 000 beloning aangebied vir inligting wat kan lei tot die oplos van die moord.
’n Carte Blanche insetsel oor die moord, met dit titel “Shots in the dark”, het waarskynlik tot die aansoek vir ’n voorlopige beskermingsbevel teen Jonker gelei.
