Hannelie pleit nou vir hulp
’n Landwye pleidooi is op ’n radiostasie gemaak vir rehabilitasiehulp vir een van Middelburg se bekendste dwelmverslaafdes, Hannelie “Wessels” Venter, wil haarself by die Sanpark rehabilitasiekliniek in Klerksdorp, waar sy tans woon, inboek om skoon te kom.
Sy benodig ’n aanvangsbedrag van R12 000 vir behandeling, wat sielkundige behandeling en ongifting insluit.
Daar is reeds R1500 by die kliniek inbetaal en sodra die oorblywende R10 500 inbetaal word, sal die kliniek sy deure vir Hannelie oopswaai.
Die pleidooi in Hannelie se eie woorde, het honderde kommentare op sosialemedia uitgelok, met die meerderheid kommentators wat sê dat verslawing gedeeltelik oorwin is as die verslaafde kan erken daar is ’n verslawing.
Ander wys egter daarop dat Hannelie al in verskeie rehabilitasieklinieke was, sonder sukses en tot dusver toe nog net “die slagoffer gespeel het ten koste van haar familie”.

Hannelie sê dat sy die afgelope ses maande reeds weer op Methadone is om haar heroïeneverslawing af te skud. Volgens Hannelie het sy nog net 18 dae se Methadone oor, voordat sy “weer gaan val, en hard gaan val”.
Methadone, sê Hannelie, is bloot ’n “wettige vervanging en ewe verslawend”.
Sy word binnekort 37 en is al van 16 jaar af ’n verslaafde.
Sy het haar verslawing lank op familielede blameer. Haar ma en pa het deurgeloop onder beskuldigings waarvoor sy in ’n Facebook video verskoning gevra het.
In die video sê sy dat sy graag eendag haar “twee seuns wil ontmoet en leer ken”.
• Inwoners wat Hannelie wil help kan direkte betalings aan Sanca Klerksdorp maak.

