Die pad van Middelburg af, verby Bethal, Standerton, Vrede, Warden, Bethlehem…
Net buite Bethal begin die walging in jou opstoot.
Daar is massiewe rommelhope reg langs die pad. Dit is verstommend. Papiere en ander gemors waai die wêreld vol.
’n Paar kilometer buite Bethal begin die slaggate, groter en groter, meer en meer…

Jy koets, jy konsentreer, jy is dankbaar om nog ’n gat te mis.
Standerton: Hartverskeurend! Verkeersligte is weg, die begraafplaas is toegegroei, daar is nie meer paaie nie, dit is soos ’n geploegde land. Die verval van die dorp roep ten hemele.
Deurdruk na Vrede. Dit is nou Vrystaat, die bakermat van Ace Magashule, ANC sekretaris generaal.

Ace se nalatenskap is daar vir almal om te sien, gat op gat. ’n Paaienetwerk in sy maai.
Vrede is nou Onrus. Die dorp se rugbyveld en klubhuis klaaglik vernietig.
Ry Bethlehem binne, slaggat paradys. Stop om rigting na Fouriesburg te vra. Die man skud sy kop bekommerd: “Jy kan nie daai pad ry nie!”
Agt kilometer buite Bethlehem is daar 110 hektaar se appelboorde.
Die onversorgde boorde wys mislukking. Miljoene rande is sedert 1998 daarin belê.
Nou smeek die 110 hektaar appels, wat rooi aan die bome hang, dat hulle gepluk word.
Die eens netjiese kantore van die Bethlehem Farmers Trust dakloos.

Daar is niks oor nie. Daar kan nie ’n meer depressiewe roete wees nie.
Jy ry Middelburg binne na die naweek. Daar is nie slaggate nie. Die paaie is netjies geverf. Die rommel is verwyder. Dit voel soos in die paradys.
Dit is eers wanneer jy sien hoe lyk Standerton en die res, dat jy dankbaar is vir Middelburg.

