Terwyl gesin braai steel dief
’n Opportunistiese dief het vir die vierde keer toegeslaan op die selfde huis in Kanonkop, en is vasgevang op videomateriaal.

Johanita Bester vertel dat die dief, Sondagmiddag om 12:00, toegang gekry het tot hulle erf op die hoek van Vygie- en Eikestraat van Stoffberg se kant, deur oor hulle muur te spring.
Sy en haar man, Paul, was beamptes by die Suid-afrikaanse Atletiek Kampioenskappe en was nie tuis nie. Die dief het by hulle wendyhuis ingebreek en haar man se elektriese gereedskap gesteel wat ’n hoekslyper, ’n elektriese saag en ’n elektriese toetser insluit. 
Johanita vermoed hy het voorheen haar hond geteister, omdat daar gesien kan word op die videomateriaal hoe die hond vlug wanneer hy by die erf inkom.
“Hy steel klein goedjies. Dis gewoonlik te min in waarde om terug te eis van die versekering af.”
Johanita sê dat die selfde dief laas jaar Oktober by hulle gesteel het, terwyl hulle besig was om te braai.
Die tweede keer was einde Januarie en hulle vermoed hy het die bure ook geteiken nadat hy die elektriese heining geknip het.
In Maart het hy weer ingebreek terwyl hulle weg was en het ’n strykyster, ’n prutpot en haar oefengereedskap gesteel. 
Johanita het die videomateriaal en duidelike skermskote van sy gesig wyd versprei om gemeenskapslede te waarsku.
Lede van die oefenkamp by Hoërskool Kanonkop het laat weet dat hulle hom vanoggend in die straat opgemerk het.
“Ek oorweeg dit sterk om sy foto te deel onder die pandjieswinkels want ek glo hy verkoop die gereedskap. Ons glo ook dat hy moontlik ander inwoners besteel en dalk herken iemand die man.”
