Diewe stap net in by bejaarde vrou se huis
Twee diewe, ’n man en ’n vrou, het ingestap in ’n bejaarde vrou se huis, gekyk of hulle enigiets van waarde kan kry en uiteindelik weggekom met haar selfoon.
“Ek het eers later besef wat alles met my kon gebeur het. Terwyl hulle daar was, moes ek net die hele tyd keer, want ons honde wou hulle byt,” het me. Lettie Welgemoed (81) vanoggend gesê.
Alle aanduidings is dat die booswigte haar dopgehou het by haar huis in Bokmakierestraat (Kanonkop, Middelburg) en gesien het dat sy nie die hekke sluit nie.
’n Vriendin het omstreeks 10:00 ’n pakkie by haar afgegee en sy het die voorste skuifhek oop en toe gestoot. Terug in die huis het sy ook nie die agterdeur se veiligheidshek gesluit nie, sodat die honde in en uit kon gaan.
“Die honde het skielik begin blaf en ek het gedink iemand het in die straat verby geloop. Dit het erger geraak en die oomblik toe ek opstaan om te gaan kyk wat aangaan, het die man en vrou klaar in my kombuis gestaan. Hulle het eenvoudig net die deur oopgemaak en ingestap!”
Sy het gevra wat hulle daar soek, waarop die man vir haar gesê het: hy “soek na die Mkhulu, want ek het saam met hom gewerk.”
Me. Welgemoed het vir hom gesê haar man is al vyf jaar gelede dood. Sy het ook besef hy lieg, want hy is heeltemal te jonk om saam met haar man te kon gewerk het.
“Hy het kamtig vreeslik begin huil en sommer deurgestap in die rigtings van die kamers.”
Die vrou het hom gevolg en me. Welgemoed moes die hele tyd die vyf maltesies en Chinese Keeshond (Chow) keer, want hulle wou die twee byt.
Die man het selfs op ’n stadium dreigend gesê: “hou jou honde eenkant!”
Me. Welgemoed het probeer kyk wat die twee doen, maar as sy by die een gaan staan het, het die ander een sommer in ’n ander kamer ingegaan. Terwyl die twee heen en weer deur die vertrekke geloop het, het me. Welgemoed die honde probeer kalmeer en kort-kort gevra wat hulle soek.
“Die man het selfs gesê hy wil ’n kiekie neem in die huis, maar ek het hom gekeer.”
Sy het vir hulle op ’n stadium gesê dis nou tyd dat hulle gaan en sy het hulle al by die kombuis gehad, toe die vrou weer omspring met “ek wil net na jou tuin gaan kyk.”
Me. Welgemoed sê sy vermoed dit is toe dat die vrou haar selfoon, wat sy moes opgemerk het toe hulle ingestap het, gesteel het.
Nadat hulle weg is, het sy haar dogter gebel en is ’n noodgroep ontbied, maar die twee was skoonveld.
“My ma was histeries en deurmekaar nadat hulle weg is, want sy het geweet wat kon gebeur het,” het haar dogter, Leonie de Jager, gemeld.
Sedert die voorval is sekuriteit opgeskerp by die huis en word alle hekke en deure gesluit.
• Me. De Jager sê die afgelope paar weke word die huis waarin haar ma en suster, Irma, bly, geteiken.
Daar is die afgelope tyd al gereedskap (onder andere om mee houtwerk te doen) uit die buitekamer gesteel en selfs ontlasting teen die buite toilet gesmeer.
Een nag was daar ook booswigte in die erf.
• Hulle wil graag alle vroue, veral bejaardes, wat bedags alleen tuis is, waarsku om oplettend te wees en ten alle tye hul deure gesluit te hou.
