Rower slaan bejaarde met vuis
’n Rower het ’n bejaarde man met die vuis getakel om sy selfoon in die hande te kry.
Mnr. Boet Kruger (78) was Maandag besig om moeisaam in sy kar te klim nadat hy by die Middelburg Poskantoor in SADCstraat was, toe ’n rower op hom toesak.
“’n Mens hoor en lees van hierdie dinge, maar as dit met jouself gebeur, is dit iets verskrikliks,” het sy vrou, Cynthia (81) vertel.
Me. Kruger sê hulle verkies om nie Middedorp toe te gaan nie, weens die erge misdaad.
“Ons is gedwing om te gaan, want die munisipaliteit het gesê ons moet ’n Sassa kaart hê vir afslag en my man het syne verloor. By Sassa het hulle weer gesê ons moet poskantoor toe!”
Me. Kruger, wat bestuur het, het ’n parkering gekry tussen ’n polisievoertuig en ’n ander kar en mnr. Kruger het uitgeklim.
“Ek het myself in die kar toegesluit en vir hom gewag,” sê me. Kruger.
Met die Sassa dokumente in sy hand, het hy uitgekom, en me. Kruger moes vir hom die deur oopsluit.
“Hy was nog besig om in te klim en het net gaan sit om sy bene oor te swaai in die kar in, toe ’n baie lang man hom takel.”
Die rower het hom aan die arms gegryp en die Sassa dokumente stukkend geskeur. Daarna het hy mnr. Kruger met die vuis in die gesig, op sy arms en op die lyf geslaan om sy selfoon, wat in sy boonste sak was, uit te kom. In die proses het hy ook mnr. Kruger se bankkaart uit sy sak geruk.
“Hy het by Boet probeer verby kom na my kant toe, maar ek het die kar aangeskakel, waarop hy uitgespring en weggehardloop het. Die smouse wat daar sit, het nie één eers geskree of iets probeer doen nie. Hulle het net gesit en kyk wat gebeur, so asof dit ’n alledaagse gebeurtenis is!”
Me. Kruger sê een van hul jong buurmanne is die volgende dag terug met mnr. Kruger na die poskantoor, “en toe was dit nie eers nodig dat hy gegaan het nie! Hulle kon hom ook nie help met die kaart nie. Alles is net een groot deurmekaar rat race gewees en in die proses is my man aangeval.”
Die egpaar is erg getraumatiseer deur die gebeure.
“Ons eens vreedsame dorpie, het nou in iets verskriklik ontaard en ons bejaardes is die teiken. Dit laat ’n mens so useless voel. Dit breek jou moed en spoed.”
• Me. Kruger sê die aanvaller het ’n blou oorpak gedra, ’n geruite swart en wit keps en ’n bont masker.
“Ek kon net sy oë sien.”
