Kinders getraumatiseer deur polisie se magsvertoon
Die kleinkinders het histeries begin huil tydens die voorval, en herhaaldelik geroep, “los my oupa!”.

Die dramatiese magsvertoon deur die polisie, tydens mnr. Deon Cornelius se onregmatige arrestasie, was vernederend, traumaties en het gely tot ’n verlies van inkomste, sê die Ubhetyan O Africa eienaar. Die “misverstand”, soos die polisie dit genoem het, het verlede Vrydag laatmiddag in die parkeerterrein van Kanonkop Spar afgespeel, voor hordes omstanders.
Mnr. Cornelius sê aan www.mobserver.co.za dat die spektakel veroorsaak is toe iemand die dooie hoenders, wat in sy bakkie se bak gelê het, uitgehaal, op sy kar neergesit en daarna die polisie gebel het. Hy en sy familie was binne die Spar toe hy uitvind sy bakkie is omsingel deur verkeersbeamptes. Toe hy uitstap, wou hulle hom eers arresteer omdat hy hoenders “geslag” het.
Hy het aan die verkeersvrou gewys die hoenders is nie geslag nie, en toe ’n brief gewys van die staatsveeaarts wat goedkeur dat hy die hoenders as voeding vir sy leeus mag vervoer. Die verkeersvrou het bly stry dat dit teen die wet is om hoenders te vervoer, en het hom beskuldig dat hy hoenders slag. Hulle het gevra vir sy bestuurderslisensie- en identiteitsdokumente, waarop hy in sy bakkie geklim het om dit te kry.

Die verkeersbeampte het hom beskuldig van bestuur onder die invloed van alkohol en het aangedring dat hy die blaastoets moes doen. Mnr. Cornelius het het geweier, omdat hy nie bestuur het nie. Daarna het hulle hom beskuldig dat hy hom teen arrestasie verset en twee boetes, een van R1000 vir die hoenders, en R1500 vir sy vervalde voertuiglisensie gegee.
Intussen, het meer polisie voertuie opgedaag en lede van die SAPD het met R5 aanvalsgewere uitgeklim. ’n Sersant, sonder ’n masker, het hom beskuldig dat hy hom verset teen arrestasie en ook geweier om sy kant van die saak te hoor. Mnr. Cornelius se vrou, Susan, dogter en haar twee kinders van vier en vyf jaar, was op die toneel toe hulle oupa gearresteer is. Die kleinkinders het histeries begin huil tydens die voorval, en herhaaldelik geroep, “los my oupa!”.
Kort na die voorval het ’n leser op die Middelburg Observer Facebookblad gesê dat haar kind ook getraumatiseer is toe die polisie in hulle hordes, met loeiende sirenes daar opgedaag het. “Hulle het geweier om my kans te gee om te praat, geweier om die boeie losser te maak toe ek kla dis te styf, kort-kort in hulle taal gepraat, waarop ek moes vra dat hulle Engels praat. Daarna het hulle met my oor die spoedwalle gejaag en ek het beserings aan my arms opgedoen.
” Mnr. Cornelius se regsverteenwoordiger, mnr. Danie Schutte, het hom na die polisiestasie gehaas, waarop hy laat gaan is weens die “misverstand”. Hy gaan ’n eis instel teen die polisie vir die beserings wat hy opgedoen het tydens die onregmatige arrestasie. “Dit was absolute magsvertoon en rassisme! Die polisie is veronderstel om ’n simbool van veiligheid te wees vir kinders maar deur hulle onbevoegdheid, skrik hulle kinders af en traumatiseer hulle.
Verder het ek ’n verlies van inkomste omdat mense hulle besprekings by my oord gekanselleer het nadat hulle van die voorval gehoor het.”
•Mnr. Cornelius het gaan kyk na die videomateriaal by Kanonkop Spar, en het die persoon wat die hoenders uitgepak het herken.
