Kyk uit vir dié voertuie
Twee verdagte voertuie ry in die dorp se strate rond en inwoners is gewaarsku om op die uitkyk vir hulle te wees.
Die voertuie, ’n Avanza met ’n glimplakker op met die nommers 004 op sy deur, en ’n wit enkelkajuit Mahindra bakkie met ’n kap op, was vermoedelik betrokke by twee misdaadvoorvalle oor die naweek.
•Mnr Marius Jordaan van Steve Bikostraat, se vierwiel motorfiets is vroeg Sondagoggend gesteel, nadat vier verdagtes sy hekmotor oop forseer en verdwyn het met sy Yamaha Raptor 350, ter waarde van byna R30 000.
Na die voorval, het mnr. Jordaan op videomateriaal gesien hoe die diewe vir net onder ’n uur in sy erf geskuil het en toe die Yamaha uitstoot in die rigting van Laerskool Dennesig. Die Mahindra word in videomateriaal gesien, besig om agter die diewe aan te ry.
Nadat www.mobserver.co.za oor die voorval berig het, het nog ’n inwoner gesê die selfde Mahindra is om 02:00 Maandagoggend, in Elandstraat gesien. Volgens die inwoner het vier verdagtes uit die voertuig geklim en die strate ingehardloop.

•Die wit Avanza, met die glimplakker op, was betrokke by ’n voorval by die Midwater Engen vulstasie. Me. Elzette Pansegrouw was besig om brandstof in te gooi, en is gou by die geriefswinkel in, toe die Avanza naby haar voertuig stop. Die insittendes het haar dopgehou.
Toe die petroljoggie sy rug draai, het een verdagte haar deur probeer ooppluk, maar me. Pansegrouw het op hulle afgestorm. Die twee mans het hulle rug op haar gedraai en weggestap.
Nadat www.mobserver.co.za oor die voorval berig het, het ’n inwoner, me Felecia Smith, op noodgroepe gerapporteer dat sy die Avanza in Dr Beyers Naudéstraat opgemerk het. Sy kon op noodgroepe die registrasienommer van die voertuig deel.
