Ma gil: ‘help my kind!’ toe honde seun aanval
Terwyl ’n ma aanmekaar gegil het: “help my kind!” het sy haar agtjarige seuntjie probeer ophelp wat deur drie honde grond toe getrek is.
Me. Priscilla van Dyk sê sy gaan klagtes van nalatigheid by die polisie open teen die eienaars van die honde wat Maandagmiddag haar agtjarige seuntjie, Nico, beseer het.
“Hy is vol blou kolle, skaafmerke en rooi plekke, waar die honde hom aan sy bene beetgehad het. Hulle het hom die hele tyd afgetrek en ek moes hom ophelp. Ek het vir hom gesê, ‘boetie staan op, hulle gaan jou in die gesig byt! Toe die een gaan vir sy nek, het ek hom van Nico af geruk,” vertel me. Van Dyk.
Me. Van Dyk het Nico by Laerskool Kanonkop te voet gaan haal en het ingedraai by Akasiastraat op pad na hul huis.
Op die hoek van Lilian Ngoyi- en Akasiastraat het hulle ’n man gesien, wat gestaan en gesels het met iemand buite die hek. Die hek was oop en die drie honde het uitgestorm.
“Hulle het nie een keer vir my gegaan nie. Hulle het net vir Nico gegaan. Ek vermoed dat kinders hulle moontlik voorheen geterg het en hulle daarom net vir hom gegaan het.”
Nico het ’n langbroek aangehad en het huilend gesê: “mammie hulle byt seer,” want hulle het hom aan sy beentjies en broek beetgekry en op ’n stadium ook sy broek afgetrek.

“Ek het die hele tyd gekeer en gegil. Op daardie stadium het die man wat in die hek gestaan het vir die honde geskree: ‘los, los!’”
Me. Linda van Niekerk, wat ook in die omgewing bly, sê sy het die grommende honde en die vrou en kind se gille gehoor en is na buite.
“Toe ek buite kom, het hulle die hek toegemaak en was die honde al binne.”
’n Familielid het me. Van Dyk en Nico na ’n dokter geneem, waar hy ’n klem-in-die-kaak inspuiting, asook antibiotika gekry het. Me. Van Dyk sê die jong man wat by die hek gestaan het, het aangebied om hul mediese kostes te betaal.
• Me. Van Dyk het as agtjarige ernstige gesigbeserings opgedoen toe ’n hond haar in die gesig gebyt het.
• Die saak is by die Middelburg Dierebeskermingsvereniging aangemeld.
Senior inspekteur Petro Oberholzer het die huis besoek en sê die honde is baie goed versorg.
“Dit is nie aggressiewe honde nie en ons glo hulle het die kind gestorm, omdat ander kinders wat verbystap die honde terg. Hulle kon ook aggressiewer geraak het oor die gegil en geskree. Die goue reël wanneer ’n hond jou storm is om nié te skree nie, want hulle sien dit as iets om hulle aan te moedig om aan te val.”
• Mnr. Donovan Capazorio, die eienaar van die honde, ’n Amerikaanse Staffordshire (wat baie soos ’n pit bulterriër lyk) en twee kortbeen Engelse Staffordshires, sê hy was nie tuis tydens die gebeure nie.
Hy het die persoon wat die hek oopgelos het, ’n huurder, aangespreek.
