‘Die Hemelse Vader was met ons’, vrou praat oor gewapende roof
’n Rower het “lank en diep” in haar oë gekyk, voordat hy die wapen op haar gerig het.
So vertel die vrou, wat ooggetuie was van die gewapende roof wat gistermiddag in die Middelburg Mall afgespeel het. Sy is oortuig dat die man haar ken.
Die vrou, wat anoniem wil bly, gaan selde Mall toe, maar moes haar selfoon invat na die Cell C winkel, toe haar dag ’n drastiese draai geneem het.
Sy was op pad uit na haar kar toe, en was by die uitgang naby Wimpy, toe sy ’n man naby die selfoonwinkel sien op en af spring. Dit was eienaardig en hy het haar oog getrek.
Hulle het vir mekaar lank in die oë gekyk, toe sy sien hy trek iets uit sy broeksak.
“Ek het eers gedink hy werk by die selfoonwinkel en wil vir iemand iets wys, maar hy het skielik die wapen op my gerig.”
Die rowers het binne sekondes die selfoonwinkel begin stroop, nadat hulle twee skote afgevuur het. Sy het gegil dat almal moet platval, en die personeel by Wimpy het vir haar beduie om by hulle te kom wegkruip.
“Ek het geweier, want ek kon sien daar is nie veel wegkruipplek as hulle begin skiet nie, en het om die hoek gehardloop na veiligheid.”
Die vrou vertel dat die man kort was, ’n swart denim en swart trui gedra het, asook ’n swart Covid masker.
“Hulle het nie eers hulle identiteit probeer verbloem nie, net swart Covid maskers gedra.”
Sy glo “dat die Hemelse Vader met hulle was”, omdat die roof so maklik skeef kon loop.
Sy is nou nog omgekrap oor wat gebeur het, en is gegrief dat ’n openbare plek, wat ma’s en kinders gereeld besoek, so onveilig kan wees.
“Daar is nie gewapende sekuriteit nie, en toe die polisie opdaag was die rowers reeds weg. Hulle kom elke keer daarmee weg. ’n Mens gaan nie meer ou-dorp toe nie, omdat dit nie veilig is nie. Maar mens kan ook nie meer Mall toe gaan nie.”
