Kompleks keelvol vir stoute kinders, brandstigting die laaste strooi
Die brand van ’n palmboom op die gronde van ’n kompleks wat 30 gesinne huisves, was die laaste strooi vir twee inwoners, wat nou klagtes gaan lê, na maande se teistering.
Die voorval het by The Palms in Vosstraat plaasgevind, nadat twee tiener seuns die boom aan die brand gesteek het. Die voorval is op CCTV videomateriaal vasgevang.
Opsigter, Adele de Santos, en voorsitter, Thoko Dube, het www.mobserver.co.za genader, omdat hulle nou keelvol is vir die wraaksinnige gedrag van kinders wat ’n geruime tyd aanhou.
Hulle doen graag moeite om die tuine van die kompleks mooi te maak, maar hulle bome en blomme word gereeld uitgetrek, of summier beskadig en afgebreek.
Hoewel hulle nie kan bewys dat die twee seuns wat die boom aangesteek het hulle plante beskadig nie, wil hulle nou ’n finale waarskuwing uitreik dat daar kameras opgesit is, en dat hulle alle voorvalle by die polisie gaan aanmeld.
Adele vertel dat hulle gelukkig betyds besef het die boom is aan die brand en het na buite gehardloop met brandblussers. Die boom het binne sekondes vlam gevat, en die vlamme was reeds te hoog vir hulle om ordentlik by te kom.
Uit die 30 gesinne, is daar ses met klein babas, en die kompleks kon maklik afgebrand het, omdat hulle heining uit houtplanke bestaan.

Adele en Thoko kon die kinders uitken, en het hulle die oggend daarna genader, terwyl hulle in hulle uniforms staan en wag vir die bus.
“Eers het die hele groep wat staan en wag na ons toe gestap, waarop ek vir hulle gesê het dat ek net met die twee seuns wil gesels. Ek het vir hulle gesê dat ek nie hulle beskuldig van dit doen of nie doen nie, maar wil graag kontak maak met hulle ouers.”
Die een seun het net vir haar gekyk, en gesê, “kinders is mos stout”. Hulle het ook die verkeerde woonadres gegee.
Adele en Thoko het die skool gekontak, wat gehelp het om kontak te reël tussen hulle en die ouers.
Thoko het bygelas dat die seun se houding haar verder kwaad gemaak het.
“As ’n kind vir jou sê, ‘kinders is kinders, hulle is stout’, dan kom dit van hulle ouers af. Ouers moet hulle kinders maniere leer.”
Sy het genoem dat hulle baie geld spandeer aan die tuine van die kompleks net sodat kwaaddoeners dit beskadig. Hulle gooi selfs hulle rommel in die tuin, en skop die houtpaaltjies af.
“Ons het as kinders ook kattekwaad aangejaag. Ons het toktokkie gespeel en vrugte gepluk. Maar hierdie gedrag is anders. Dis brandstigting en dit het ander se lewe in gevaar gestel.”
Adele en Thoko gaan met die ouers gesels, maar oorweeg dit sterk om ’n saak teen die twee seuns by die polisie aan te meld.
•’n Foto van die twee seuns is in www.mobserver.co.za se besit, maar hulle identiteit word beskerm omdat hulle nog minderjarig is.
