Wipplank van emosies met Jamie steeds in hospitaal
Jaime Moss, die negejarige leerling van Laerskool Middelburg wat op 6 April ’n groot breinoperasie in die Steve Biko Hospitaal ondergaan het, het vandag ’n bietjie beter begin sien.
“Ons dien ’n wonderlike God,” het sy ouma, Natalie Moss, dankbaar uitgeroep toe Jaime se ouers, Johnny en Simoné, laat weet het dat daar goeie nuus is.
Die afgelope maand was ’n wipplank van emosies vir die gesin en is daar kort-kort gehoop dat hy ontslaan sou word, maar elke keer moes hulle teleurgesteld hoor dat hy nog nie gereed is nie.
Net toe hulle dink hy gaan uiteindelik huis toe kan kom, het hy verlede Vrydag skielik koorsig geword. Hulle het besef daar is iewers ’n infeksie en hy is Dinsdag terug teater toe, sodat hulle die toestel (shunt) in sy brein moes uithaal en ’n tydelike dreineringspyp kon insit.
Na 10 dae sal die toestel weer terug gesit word. Alhoewel die knapie baie maer geword het en al skrikkerig is vir al die naalde, is dit hy wat almal die hele tyd moed inpraat.
“Hy sê die hele tyd ’alles is okey’”.

Ouma Natalie glimlag as sy dink hoe hy kort kort na haar vra en sê sy moet kom kuier en “magic” maak.
“Hy wil ook nie meer deur die sekuriteitshek met my kuier nie, hy wil op my skoot sit!”
Jaime se pa kom die naweek huistoe, want hy is al ’n maand saam met sy vrou in Pretoria om Jaime te ondersteun. Ouma Natalie gaan dan tydelik daar bly.
Me. Moss sê alhoewel dit vir hulle, en veral vir klein Jaime, baie traumaties is om die hele tyd daar te wees, ervaar hulle voelbaar almal se gebede en liefde.
“Jaime is baie lief vir lekkers en Laerskool Middelburg stuur elke Vrydag vir hom lekkers saam!”
Dit is vir hulle moeilik om almal uit te sonder, maar daar is tog mense wat “nie net die ekstra myl geloop het nie, maar nou al honderde myle saam met ons stap.”
Hulle rig’n groot dankie aan Laerskool Middelburg, sy maatjie, Damien, Liezel en David en Piet en Sara van Niekerk, familie en vriende vir almal se ondersteuning.
“Aan die anonieme skenker wat tot nou toe nog Simoné en Johnny se blyplek daar betaal het. Baie dankie. Ek dink nie jy weet wat dit vir ons beteken nie.”
