CCTV kamera vang dwelms en kameradief op
Voordat ’n boef Woensdag in die vroeë oggendure weggekom het met ’n CCTV kamera, is die nag se bedrywighede alles opgeneem.
Die dief se gesig verskyn ook ’n sekonde op die videomateriaal.
Die nag se videomateriaal vertel egter ’n hele verhaal wat presies plaasgevind het op die houtdek stoepgedeelte by die Jitters restaurant op die hoek van Meyer- en Beyers Naudéstraat.
Kort na middernag kom die kameradief in en verskyn heeltemal uit die kamera-oog uit as hy onder een van die tafels gaan lê.

Om 01:00 kom Xavier van der Merwe (36) en Sonja Pretorius (23), die twee jong mense op straat waaroor die Middelburg Observer hierdie week berig het, ook daar aan. ’n Mens kan duidelik sien hulle merk die persoon onder die tafel op, want Xavier hou eers ’n mes aggressief in die lug.
Net daarna ontspan hy en Sonja en is dit duidelik dat hulle die persoon onder die tafel herken.

Die twee het vir die joernalis Maandag vertel haar skoene is gesteel, maar dit blyk dat sy iewers splinternuwe tekkies gekry het.
Hulle kies die tafel in die oog van die kamera, pak alles uit hul winkeltrollie onder die tafel in en gaan lê onder die tafel.

Teen 2:36 staan die ander man op, gaan na buite om homself te verlig en kom weer terug.
Xavier begin vroetel onder die tafel en staan om 02:50 op, gaan sit by die tafel en gooi sy baadjie oor Sonja. Dan haal hy ’n klein sakkie, met wit poeier uit sy sak (soortgelyk aan wat dwelmgebruikers gebruik) en sit dit op die tafel.

Om 03:02 is dit duidelik dat iets Xavier se aandag trek, want hy loer om na die ander persoon onder die tafel. Sekondes later verskyn die kameradief vlugtig in die kamera-oog, hy wikkel die kamera los en steel dit.
Tydens die hele tydperk wat die persoon die kamera loswikkel, kan ’n mens in die agtergrond sien dat daar lig aangaan, soos ’n sigaret-aansteker, onder die tafel waar Xavier en Sonja lê en is dit beslis duidelik dat ten minste Xavier wakker is.
• Xavier en Sonja is gekonfronteer oor die videomateriaal en het Sonja ten sterkste ontken dat dit sy is op die video, Sy het gesê dit is ’n blondekop seun op die video.

Die personeel van al die winkels op die perseel verjaag hulle sedert die voorval.
“Hulle het ’n lekker slaapplek gehad, maar omdat hulle niks gedoen het toe die kamera gesteel is nie, sal ons hulle nie weer toelaat daar nie.”
• Die vermoede bestaan dat die persoon wat die kamera gesteel het, dieselfde persoon is wat op goeie Vrydag en net etlike dae later die vensters gebreek het by die OK Grocer in Meyerstraat.
CCTV Videomateriaal het gewys hoe die booswig, nadat hy die venster gebreek het, eenvoudig net oor die pad gestap het en tussen plante by ’n huis oorkant die pad gaan lê en slaap het.
• ’n Sekuriteitsfirma en die polisie is gevra om snags in die omgewing te patrolleer om die gure karakters weg te hou.
