Klip deur venster gegooi in Dennesig
Daar is tussen gister en vanoggend groot skade aangerig by huise in Kanonkop en Dennesig.
• Me. Bets van Deventer en haar ma, me. Doreen Coetzee, is Sondag omstreeks 01:30 uit hul slaap geruk, met ’n geweldige slag by hul huis in Spioenkopstraat (Dennesig).
By nadere ondersoek het hulle gevind dat iemand die toegeboude stoep se venster met ’n klip stukkend gegooi het.
“Ons het net die slag van die klip deur die venster gehoor. Daarna was dit stil. Ons het niemand hoor weghardloop of ’n kar gehoor wat wegjaag nie.”

Die polisie, Noodroep Radiogroep Sektor 3 en reaksielede van Mid Alarms en CSC Tactical was binne minute op die toneel, maar die boosdoeners het weggekom. Me. Van Deventer sê sy het geen idee waarom die boewe juis hulle huis wou teiken nie.
• Me. Vanessa de Bruin, wat in Springbokstraat bly, was tussen 09:00 en 10:00 Sondag nie tuis nie.
Met haar terugkeer het sy dadelik gesien daar is fout. Al die kabels en ligte reg rondom die huis is gesteel. Alle aanduidings is dat die boewe oor die palissadeheining geklim het om die ligte en kabels te steel.
Sy het dieselfde dag alles uit die lapa verwyder, om seker te maak die diewe kom nie terug en steel alles van waarde in die lapa nie.
• Mnr. Eric Cason het op ’n noodgroep laat weet dat sy hekmotorbattery vanoggend tussen 05:30 en 06:30 by sy huis in Broodboomstraat gesteel is.
Wat hulle dronkslaan dat nie hul eie of die bure se hond eers geblaf het nie. Hy het om 05:30 by die huis gery en eers om die blok weer by sy huis verby gery, omdat daar iets met sy voertuig verkeerd was.
“Daar was niemand in die omgewing nie.”
Die oomblik toe sy verloofde egter wou ry, wou die hek nie oopmaak nie en het sy gesien dat die deksel van die hekmotor ietwat skeef staan. Eers toe het sy agtergekom dat die hekmotorbattery gesteel is.
Mnr. Cason sê hulle het verlede week aan die hekmotor laat werk en het hy vergeet om die veiligheidsdeksel, wat hyself prakseer het, Vrydag weer terug te sit.
Wat vir hom onrusbarend is, is die feit dat ’n mens nie van die buitekant van die erf af by die battery kon uitkom nie en die diewe dus in die erf in geklouter het.
Hy het gemeld dat dit die vierde hekmotorbattery in twee jaar is wat hulle by sy huis steel en dat hy juis ’n veiligheidsmaatreël in plek het na die diefstalle.
“Die oomblik toe ek vergeet om dit terug te sit, toe steel hulle die battery. Ek vermoed hulle het ons dopgehou.” 
