GRAFIESE INHOUD: Minderjarige kinders se jaghonde byt marmotte dood by park
Minderjarige kinders wie se honde op ’n gereelde basis moeilikheid veroorsaak by Amora Voëlpark, se honde het hoenders en marmotte doodgebyt.
“Ons het van die marmotte met bytplekke gekry, maar ek glo die ander, wat nie kon wegkom nie, het van vrees gevrek. ’n Totaal van 12 is dood, waarvan een dragtig was!” het ’n hoogs ontstoke me. Marietjie Britz vanoggend gesê.
Sy sê hulle sukkel al ’n jaar met ’n groep minderjarige kinders, “wat nie ouer as 13 tot 14 jaar kan wees nie” wat op ’n maandelikse basis toeslaan by die park.
“Elke keer as hulle daar was, word daar óf iets gesteel of van ons diere doodgebyt. Die honde by hulle is beslis jaghonde. Hulle word grootgemaak om te veg!”
Sowat ’n maand gelede het haar pragtige poumannetjie so ’n erge bytplek opgedoen dat die dier van kant gemaak moes word. Laasnag het die een hond, wat hulle nie gister onder ’n Wendyhuis kon uitkry nie, toegesak op die marmotte en hoenders.
Die drama het gisteroggend al om 04:00 begin toe een van hul werknemers (wat op die perseel bly) haar gebel het om te sê die honde is weer op die perseel. Hy het ’n geraas gehoor en ondersoek ingestel, waarop twee honde by hom verby gehardloop het.

Hulle kon nog honde hoor en het gesien dat drie ander honde deur ’n gat in ’n plaat onder ’n Wendyhuis ingekruip het en nie kan uitkom nie.
Die hulp van die Dierebeskermingsvereniging is ingeroep en hulle kon twee van die honde gister bevry. Die derde een kon hulle egter nie uitkry nie.
“Ek het gewéét daardie hond gaan moeilikheid maak! Dis hy wat die marmotte en hoenders gebyt het. Ek het nou net gehoor dat nog een van die ander honde deur die nag moes teruggekom het en saam met die ander hond op die perseel was!”
•Kort nadat hulle die honde gisteroggend gekry het, het hulle ook gesien dat daar ingebreek is by een van die besighede op die perseel, J&K Linen, waar R2 500 se duvets gesteel is.
•Me. Britz meld dat die groep ten minste een keer per maand inkom “om kamtig ’n haas te koop. Ons sê elke keer vir hulle dat hulle ’n volwassene moet saambring, want ons kan nie vir hulle die haas gee nie. Een kom in om te ‘koop’ en sy maats, met die vyf honde by hulle, bly in die veldjie agter. Sodra hulle daar was, word daar drade geknip en diere beseer of goed gesteel!”
•Die afgelope paar maande word daar gereeld kinders in verskillende uitbreidings van die dorp gesien wat honde steel. Die kinders, wat al gekonfronteer is, is tussen die ouderdom van 11 en 13 jaar.
