Man sny buiteligkabel helder oordag
Net etlike dae nadat ’n gesin van Kanonkop se buiteligkabels en buiteligte gesteel is, is daar pas ’n man in Hibiscusstraat betrap, waar hy besig was om ’n buiteligkabel deur te trek.
Daar is op die Hibiscusstraat straatgroep ’n foto gedeel van die man. Videomateriaal is ook aan www.mobserver.co.za beskikbaar gestel waarin die vrou, wat hom betrap het, hom vra wat is hy besig om te doen.
Die vrou, wat verkies om anoniem te bly, het die man vanaf haar kombuisvenster dopgehou. Sy het opgemerk hoe hy na die palissadeheining toe stap en begin peuter aan iets by die heining.
Lees ook: Court withdraws stolen property charges despite “confession”
“Elke keer wat ’n kar verby gekom het, het hy agter die boom skuiling gesoek.”
Sy het besef hy is besig om iets onwettigs te doen, oor die straat gedraf en die man gekonfronteer. Sy het ook ’n verbygaande motoris gestop, omdat sy vrou-alleen bang was die verdagte doen iets aan haar.

Hy het egter sommer ’n entjie teen die palissade afgestap en vir hulle beduie hy pluk iets.
Sy het aanvanklik gedink hy sê hy pluk blare, maar hy het na die bessies in die boom gewys.
Dit was egter glad nie op die plek waar sy hom gesien vroetel het teen die palissadeheining nie.
Die vrou het ook gesien dat daar ’n kabel uitsteek waar hy gevroetel het.
Die man wat gestop het, het vir hom gesê om daar te staan, hy gaan die polisie bel.
Lees ook: Vrou twee keer slagoffer van misdaad
“Nie ek of die man wou hom vasdruk of iets nie, want ’n mens weet nie of hy gewapen is of iets gaan uitpluk nie. Hy het net weggeloop in Lilian Ngoyistraat se rigting en om die hoek verdwyn.”
• Die eienaar van die huis waar die kabel uitgesteek het, sê dit is die buiteligte op die heining se kabel wat gesny is en dat hy besig was om dit uit te trek.
• Sondag is al die kabels en buiteligte by ’n huis in Springbokstraat (naby Gladiolastraat) gesteel. Gladiolastraat loop dood in Hibiscusstraat.
