Bakkie ry bo-oor paramedikus
Senior paramedikus by ER24, Barend Labuschagné, is Saterdag kort voor middernag byna doodgery.
“Ek is van agter gestamp en het die wiele weerskante van my gesien. Hy het letterlik bo-oor my gery!”
Die ER24 ambulans is Saterdagaand ontbied na ’n ongeluk by die treinbrug op die ou Witbankpad. Alhoewel daar nie ernstige beserings was nie, het die verkeer weerskante opgehoop, sodat daar na die beseerdes omgesien kon word.
Barend het gewag vir ’n vrouepasiënt, wat gekla het van pyn, sodat hy haar kon afvoer hospitaal toe. Hy het nog op die toneel gestaan, toe ’n Hilux bakkie teen ’n hoë spoed van Middelburg se rigting af verskeie voertuie verbysteek en by die ongeluk probeer verbygaan.
“Ek en die verkeersbeampte het vir hom gesê hy moet teruggaan, want dit is ’n ongelukstoneel, hy kan nie verby nie.”
Die bakkie het in trurat begin ry en Barend het omgedraai om terug te loop na die ambulans.
“Ek het net so twee of drie treë gevorder, toe ek van my voete af gery word en die wiele weerskante van my sien oorgaan.”
In ’n oomblik van skok en met adrenalien wat deur hom pomp, het hy ’n breukdeel van ’n sekonde opgespring en sy selfoon na die bakkie gegooi.
Omstanders en ander ambulansmanne het besef hy kan ernstig beseer wees, en en het met hom na die Life Midmed Hospitaal gejaag.
“Ek het geen breuke opgedoen nie, maar my lae rug en linkerarm is nog baie seer en styf,” het hy Dinsdag gesê.
Hy was Woensdag egter weer terug op sy pos om ander in nood by te staan.
• Mnr. David Ross (Ross Towing & Recovery) het die bakkie agterna gesit en sê hy moes op ’n stadium 220km/p/h ry om by te bly. ’n Lid van ’n opsporingsmaatskappy het ook agterna gejaag.
In eMalahleni het nóg insleepvoertuie by die jaagtog aangesluit en die bakkie naby die Highveld Mall afgetrek.
Die Witbank Polisie is gekontak, maar hulle het nie ’n voertuig beskikbaar gehad om uit te gaan nie. Die groep het later die jong man laat gaan.
Hulle het egter die voertuig se registrasienommer geneem.
• Barend is die afgelope sowat 10 jaar by ER24, maar is al 20 jaar ’n bekwame paramedikus.
• Hy het saak van roekeloos nalatige bestuur by die Witbank polisie aanhangig gemaak.
• Kaptein Eddie Hall sê as die persoon wat die paramedikus omgery het, opgespoor word, kan hy ook aangekla word van verlaat van ’n ongelukstoneel.
