Klagtes van bedrog hoop op teen berugte O’Neill
Inwoners van Marble Hall tot Noordwes sê dat Steven O’Neill, of Rooies, ’n bedrieër is.
Drie sake van bedrog teen hom is by die Witbank Polisie aangemeld en ’n saak van diefstal by die Mhluzi Polisie.
’n Middelburg sakeman, mnr. Koos Weber, het self onder O’Neill deurgeloop, nadat hy ’n kragopwekker ter waarde van R23 000 aan hom verhuur het, met die ooreenkoms dat dit in paaiemente van R11 000 afbetaal sou word.
Weber het nooit weer sy geld of kragopwekker gesien nie.
Mnr. Weber het hom na Facebook gewend en 33 ander slagoffers opgespoor.
•’n Anonieme sakevrou het gesê dat sy R45 000 se skade gely het, as gevolg van sy slimpraatjies.
Sy het R20 000 kontant aan hom oorhandig vir die herstel van ’n ratkas (transmissie) met die belofte dat O’Neill haar sou vergoed met R60 000 van die verkoopprys.
Sy beweer O’Neill het voorgegee dat hy ’n kontrak op ’n myn het vir ’n beligtingsaanleg en het R11 000 se kapitaal by haar geleen.
Daarby het hy twee beeste en ’n kalf vir R13 000 aan haar verkoop, wat sy nooit ontvang het nie.
•Jaco van der Westhuizen, ’n sakeman van eMalahleni, het ook ’n saak van diefstal en bedrog teen O’Neill gelê, nadat hy R30 000 se verlies gely het vir die terreinvestiging op ’n myn.
O’Neill het ’n ooreenkoms met Van der Westhuizen gemaak vir masjiene wat op die myn gebruik sou word.
Nadat reëlings getref is, het die masjiene nooit opgedaag nie, omdat O’Neill beweer dat hy nie permitte vir die verskuif daarvan kon reël nie.
Mnr. Van der Westhuizen het self permitte gereël maar steeds het O’Neill gereageer met leë beloftes en verskonings.
Al drie slagoffers sê O’Neill maak eers verskonings, dan beloftes, dan dreigemente.
•O’Neill het al die bewerings ontken. Hy het mnr, Weber beskuldig van ’n personlike vendetta.
Media woordvoerder van die eMalahleni SAPD, kapt. Eddie Hall, het bevestig dat drie sake van bedrog by hulle geopen is. Die ondersoekbeampte doen ’n beroep op slagoffers om hulle sake by hom aan te meld. Kol. PG Mahlo kan op 082 375 3342 gekontak word.
