Radiogroep baklei onder mekaar
Tydens ’n vergadering van die Noodroep Radiogroep Sektor 3 by die NG Suid se kerksaal, het die gemoedere só hoog geloop dat van die mense opgestaan en uitgeloop het.

Mnr. Johan Snyman was hewig ontsteld oor die gebeure en is kwaad omdat daar kragwoorde na ’n vrou geslinger is.
“Hierdie het alles by die kerk gebeur! Het mense nie meer respek nie?”
Hy het buite in die kar gesit met sy kleinseun, toe iemand na hom toe stap en sê dat daar ’n vrou gevloek is.
“Een ou, wat gesê het hy is ’n polisieman, het sommer sy bril afgehaal om daar buite by die kerk te baklei.”
’n Paar van die ander mense wat in die gebou was, het gesê dat hulle ook opgestaan het om te loop, toe daar ’n argument uitbreek tydens die vergadering.
• Mnr. Tienie Uys (voorsitter van die radiogroep) wou hom nie uitlaat oor die gebeure nie en het net gesê dat die komitee besig is met ’n interne ondersoek oor Donderdagaand se gebeure.
“Daar is mense wat bewerings gemaak het, maar ek wag nog vir die verklarings en bewyse. Ek was nie buite tydens die beweerde bakleiery nie.”
Hy het wel erken dat daar ’n woordewisseling tydens die vergadering was.
“Daar is mos maar altyd dwarstrekkers. Ons is 428 lede en daar is een of twee mense wat onenigheid veroorsaak. Ek gaan nie net met een individuele persoon se klagte of op hoorsê optree nie. As ons klaar is met die ondersoek, sal daar dienooreenkomstig opgetree word. In enige groep is daar maar maar soms opstokers wat nie hul sin kry nie.”
Volgens hom het daar net 12 mense opgestaan en geloop.
• Mnr. Chris van der Walt, ’n reaksielid van Titon Sekuriteit, is al ’n rukkie lid van dié radiogroep, omdat hy ook in die betrokke sektor bly.
Hy sê hy was ook in die vergadering en het die woordewisseling gehoor. Hy het agter gesit en die opmerking gemaak, “mooi man” teenoor een van sy vriende wat langs hom gesit het.
“Die volgende oomblik het ’n jong vrou vir my geskree: ‘hou jou bek!’ en ek het nie eers met haar gepraat nie.”
Mnr. Van der Walt sê die pa se houding was dreigend en die polisieman het sy bril afgehaal, omdat dit gelyk het of die pa handgemeen wil raak.
“En ek het nie eers aan my wapen geraak nie! Ek het my pepersproei, wat langs my wapen was, agter my rug gehou, sou daar dalk ’n geveg uitbreek. Daar het egter niks verder gebeur nie, so dit was nie nodig om dit te gebruik nie, en ek het dit weer gebêre.”
Mnr. Van der Walt sê dit is vir hom ’n voorreg om die radiogroep te ondersteun, “want ons reaksielede het bietjie meer regte as hulle op ’n toneel en help ek hulle graag.”
Hy het dit duidelik gestel dat die Noodroep Radiogroep Sektor 3 “goeie werk vir die gemeenskap doen.
“Die lede werk goed saam met Afriforum en die Polisie. As die paar wat moeilik is, net hul verskille eenkant kan sit, kan ons aangaan met hierdie uitstekende werk wat die groep doen.”
