Boewe steel twee motorfietse by polisieman
Net dae nadat ’n polisieman van Belfast se hond vergiftig is, het die booswigte laasnag twee motorfietse uit sy erf in Bhekamusi Masangostraat gesteel.
Adj. Shane Coetsee (polisielid, Belfast Polisie) is tans nog besig om in die veld naby die Madala nedersetting na sy motorfietse te soek.

’n Sekuriteitswag het in die vroeë oggendure gesien hoe twee mans die motorfietse in die nedersetting in stoot. Hy het egter nie onraad vermoed nie en hulle laat begaan.
Adj. Coetsee sê hy het omstreeks 03:15 wakker geword en agter gekom die krag is af. Hy het by die venster uitgeloer, maar gesien dat die res van die bure se krag aan is.
Hy is na buite waar hy dadelik gesien het sy motorhuis staan oop en sy seun en dogter se motorfietse is gesteel.

Adj. Coetsee het in sy voertuig gespring en die omgewing bespied, waarop hy opgemerk het dat die kragboks gebreek is en dit die rede is dat sy huis se krag af is.
“Hulle het natuurlik die kragboks gebreek en gewag dat die alarm se battery pap word, waarna hulle ’n venster aan die agterkant van die motorhuis oopforseer en ingeklim het. Daarna het hulle die motorhuis van binne af oopgemaak en die motorfietse uitgestoot.”

Hulle het ook sy betonmuur gebreek en die drade geknip om die motorfietse uit die erf te kry. Adj. Coetsee het die polisie van die diefstal in kennis gestel en hulle het saam met hom die area begin fynkam.
Hulle het kort daarna die sekuriteitswag by die Madala informele nedersetting raakgeloop, wat vir hulle vertel het dat hy die mans met die motorfietse gesien het.
• Die motorfietse wat gesteel is, is ’n steenkoolkleurige 800cc GS BMW en ’n oranje 125cc Big Boy motorfiets.
•Adj. Coetsee glo die booswigte wat die motorfietse gesteel het, is dieselfde twee wat hy Saterdagaand kort na 23:00 voor sy erf betrap het.

Die twee het voor die erf verby gekruip en het adj. Coetsee het hulle gekonfronteer.
“Ek het vir hulle gevra hoekom kruip hulle daar rond. Hulle het gesê dit is na die aandklokreël en hulle is bang hulle word gevang.”
Adj. Coetsee het homself geïdentifiseer as polisieman, hulle deursoek, foto’s van hulle geneem en met ’n waarskuwing laat gaan.
Kort na middernag dieselfde aand het sy vrou, Charmain, hul honde in die huis laat uitgaan. Sy het dadelik gesien hul ander hond, Roxy, is onvas op haar bene en baie siek.
Die egpaar het begin met behandeling en haar deurgehaal.
Die volgende dag het adj. Coetsee se dogter ’n sakkie korrelrige gif, Temik (ook ‘Two Step’ gif genoem oor die vinnige werking), buite die erf opgetel.
• Dit was nie die enigste voorval waar honde vergiftig is in Belfast nie. Ten minste twee ander gesinne het op hul noodgroep gesê dat hul honde die afgelope maand vergiftig is.
• Adj. Coetsee vra indien enige persoon inligting het oor waar die motorfietse moontlik versteek kan wees, kan hulle hom bel by 084 510 4761.
Do you have a news lead?
Contact our editorial office on 013 243 1434 or our standby number for emergencies on 072 248 3855 to share your story with us. Follow us on the Middelburg Observer Facebook group or page or send a WhatsApp to 072 248 3855 with the words “add me” for the latest news.
Notice: Coronavirus reporting at Caxton Local Media aims to combat fake news
Dear reader,
As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online.
Caxton Local Media is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol.
A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19. Readers with any comments or queries may contact National Group Editor Irma Green (irma@caxton.co.za) or Legal Adviser Helene Eloff (helene@caxton.co.za).
