Voetganger in straat aangeval
'n Voetganger is gistermiddag in Cowen Ntulistraat (Middedorp, Middelburg) aangeval.
Mnr. David Botha vertel dat hy omstreeks 12:00 te voet op pad was werk toe vanaf Jeppestraat en in Cowen Ntulistraat opgestap het.
‘n Roomwit Volkswagen GTI, wat van Eastdene se kant af gekom het, het langs hom gestop.
Voordat hy nog kon vra wat hulle soek, het twee mans uitgespring. Een het hom in die ribbes begin slaan en die ander een het hom in ‘n wurggreep om die nek beetgekry.
“Die bestuurder van die voertuig het, terwyl hulle my deursoek en aangerand het, ‘n 9mm pistool op my gerig.”
Die oomblik toe hulle agterkom hy net niks van waarde by hom nie, het hulle hom op die sypaadjie neergegooi, weer in die voertuig gespring en weggejaag.
- Mnr. Botha meld dat hy net die vorige nag ook die slagoffer was van misdadigers by sy huis in Jeppestraat. Al die kabels van hul buiteligte is afgesny en uitgeruk en van die ligte is ook gesteel.

Diewe het die vorige nag ook groot skade by sy huis aangerig toe hulle kabels van sy buiteligte afgesny en gesteel het. - Die afgelope paar weke is daar by talle huise kabels van buiteligte gesteel. ‘n Man is verlede week op heterdaad betrap by ‘n huis in Kanonkop waar hy besig was om ‘n kabel van buiteligte af te sny. Die vrou het hom gekonfronteer, maar hy het net weggestap. Sy kon hom nie vrou-alleen arresteer nie, omdat sy bang was hy pluk ‘n wapen uit.
