‘Almal se teddiebeer’ sterf weens virus
Paul Bester (28), die jong man wat met sy spontane geaardheid geliefd was onder almal, is gisteraand weens komplikasies van die Covid-19 virus in die Life Four Ways Hospitaal oorlede.
“My teddiebeer, my ou beer, my bodyguard is dood,” het sy ma, Johanita, vanoggend gesê.
Terwyl hulle Dinsdag vir die ambulans gewag het om hom oor te plaas vanaf die Life Midmed Hospitaal na die Fourways Hospitaal, het die hospitaal me. Bester toegelaat om by hom te sit.
“Hy het vir my gevra: ‘Mamma, sing asseblief vir my: ‘O Heer My God’ en het ek vir hom gesing. Ek het ook vir hom Psalm 23 gesing. Hy was ’n absolute kind van God.”
Sy glo dit was so bestem dat die ambulans laat was weens ’n noodgeval en sy soveel ure saam met hom kon deurbring.
“Hy het gesukkel om asem te kry, maar het steeds tussendeur grappies gemaak. Ons het ook met die Here gepraat. Paul het stil geraak en sy suurstofvlakke het soms baie laag gegaan. Dan het hy gevra of ek sal omgee dat hy slaap, dan het ek vir hom gesê slaap my kind, haal asem. Net voor hulle hom onder verdowing geplaas het om oorgeplaas te word, het hy vir my gesê: ‘Mamma, ek was al drie keer dood. Ek dink dit was omdat hy so sleg gevoel het.”
Me. Bester sê die hospitaal het hulle gisteraand gebel en gesê hulle moet kom. Terwyl hulle hospitaal toe gejaag het, het sy op Facebook dié boodskap geplaas: “My liewe seun hou asseblief aan veg, ons is op pad hospitaal toe. My kind se toestand versleg. Grote God spaar asseblief my kind se lewe.”
Met hulle aankoms by die hospitaal was hy reeds oorlede.
Lees ook: Deernisvolle Lesley oorlede
Me. Bester sê hy het vanaf sy woonstel in Roodepoort af gewerk sedert die pandemie begin het, verlede jaar. Hy was die Menslike Hulpbronne verteenwoordiger vir Tiger Brands.
Hy het sowat twee weke gelede Middelburg toe gekom, sodat die familie vir sy pa (Paul) se broer, Pieter, in Natal kon gaan kuier, wat tuis herstel het na ’n groot operasie.
Hulle het Paul se ouma, Marina Bester (74), op Ermelo opgelaai en is vir twee dae Natal toe.

Reeds met sy aankoms twee weke gelede, het Paul vir sy ma gesê hy het erge hoofpyn en sinus en me. Bester het vir hom medikasie daarvoor gegee. “Ons het nie gedink dit is Covid nie, want baie mense in Middelburg het sinus.”
’n Paar dae later, het Paul grieperig geraak en het me. Bester hom tuis versorg. Teen Woensdag verlede week was hy baie siek en hulle het die dokter gekontak, wat hulle aangeraai het om ’n Covidtoets te laat doen. Hy het ook medikasie vir hulle voorgeskryf.
Teen Donderdag het die uitslag gekom dat hy positief is. Donderdagnag het hy baie siek geword en Vrydag vroegaand het ’n ambulans hom by die huis kom haal.
Lees ook: Treineman se lang pad van herstel na Covid-19 virus
Teen Dinsdag het sy toestand so versleg, dat hy na die intensiewe eenheid geneem is, maar me. Bester sê hy was net ’n rukkie daar, toe is hy weer geskuif na die gewone Covidsaal.
Daar het hulle vir die ambulans gewag om hom te kom haal.
Haar kind was geliefd onder almal en me. Bester sê dat sy vriende vir haar gesê het dat “Paul die hart was van hul vriendekring.”
Sy het hom beskryf as “’n gentle giant, wat altyd vir my en sy pa gehelp het.”
Sy onthou met ’n hartseer glimlag dat hy ’n groot Sharks ondersteuner was “en in Formule 1 was Max Verstappen sy gunsteling.”
Me. Bester sê buiten sy vriende, was Paul net so geliefd by die atlete waar hy ’n gekwalifiseerde skeidsregter was vir Mpumalanga Atletiek.
Sy het trots vertel hoe hy in 2018 saam met haar en sy pa, Paul snr (President Mpumalanga Atletiek) die Twee Oseane wedloop voltooi het.
As sy dink aan al die boodskappe wat hulle ontvang het, besef sy hoe bemind en geliefd haar kind was.
“Daar het letterlik honderde mense van regoor Suid-Afrika, Zambië, Nieu Seeland en Australië vir hom gebid. Dit is almal se gebede wat ons nou staande hou en daarvoor wil ons dankie sê. Dankie vir elke gebed, boodskap en oproep. Ons waardeer dit.”
Paul word oorleef deur sy ouers, Paul snr en Johanita, suster Nadia, swaer Herman Connoway en susterskinders Leon-Philip en Ivahn (Agt maande). “Paul was só lief vir sy sussie se kinders.”
•WhatsApp boodskappe vir die gesin kan gestuur word na 079 498 6382.
