Man sterf na motorfietsongeluk
’n Motorfietsryer is gister kort na ’n ongeluk in die sakekern oorlede.
Johan Heymans (60) was vermoedelik op pad na ’n winkel om iets te koop, toe sy motorfiets met ’n Landcruiser bakkie gebots het by die Liliyan Ngoyi- en SADCstraat kruising.
Hy het by Columbus gewerk en was hierdie week met verlof.
Johan se dogter, Juanita, sê dat sy op die toneel by haar pa kon wees.
“Ek het sy hand vasgehou en vir hom gesê om rustig te wees, want hulle het gesukkel om sy drup in te kry. Ek het vir hom gesê dat ons vir hom lief is,” het sy vertel.
Lees ook: Vrou wat alles met oorgawe gedoen het, sterf in motorfietsongeluk
Mnr. Heymans is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.
Me. Heymans onthou haar pa as ’n karakter op sy eie.
“Hy was baie stout en vol lewe. Hy was mal daaroor om met sy motorfiets te ry,” vertel sy.
Lees ook: Boewe steel twee motorfietse by polisieman
Sy het die mense bedank wat haar ma in hierdie tyd ondersteun.
Johan laat sy vrou Anita, sy dogters Juanita en Sindie, asook aangetroude kinders en kleinkinders agter. Omdat daar ’n geregtelike doodsondersoek sal wees is daar nog nie enige begrafnisreëlings nie.
Lees ook: Seun sterf soos pa in motorfietsongeluk
