Oom Jan ‘van die hoek’ sterf in sy bed
Agter op ’n oopgeskeurde melkboksie het die woorde gevra vir ’n paar rand. Inwoners van Kanonkop het al gewoond geraak aan oom Jan Ferreira (65) op die hoek van Lilian Ngoyi- en Njalastraat.
Nou is hy dood. Net so! En niemand het eers geweet nie. Sy hoek was net leeg en almal het gewonder wat van hom geword het.
Sy vrou, Martie, het hom Maandagoggend kort voor 06:00 dood op hul bed gekry. “Hy het Sondagaand omstreeks 23:30 nog vir water gevra en ek het dit vir hom gegee. Toe ek 05:50 Maandag wakker word, het hy dwars oor die bed gelê. Hy was reeds dood. Dit lyk of hy wou opstaan en toe net teruggeval het.”
Me. Ferreira sê dat haar man sedert hy in April 2019 raakgery is op sy bedelhoek, aanmekaar gekla het oor rugpyn.

Die laaste ruk het hy ook erge maagpyn begin ondervind.
Verlede week is sy met hom dokter toe en hy is in die Middelburg Hospitaal opgeneem. Weens sy geel kleur, het die dokter gesê dat hy probleme met sy lewer ondervind.“Ek glo egter dit was omdat hy raakgery is. Die probleme het na die ongeluk begin!”
Hy is Donderdag ontslaan, maar oor die naweek het die pyn vererger en sy het hom versorg tot met sy afsterwe.
“Jan het mooi vir my gesorg. Hy was ’n goeie mens.”
Oom Jan het begin bedel nadat hul Sassa toelaes net nie meer die uitgawes kon dek en hy nie werk kon kry nie.
Hy het ’n bekende op die hoek geword met sy bordjie met dié woorde: “No job, geen werk. Help asb. Dankie.”
Sy laaste dag op die hoek, 12 Junie, was sy beste ooit.
“So paar dae voor die 12e, het ’n man en vrou uitgevra oor waar ons bly en het Jan vir hulle gesê. Daardie middag het hulle opgedaag en R4 000 kontant vir hom by ons huis kom gee.”
Dit was vir hulle wonderlik om vir die eerste keer in ’n lang tyd nie te raap en skraap vir hul verblyf of kos nie.

Me. Ferreira sê sy kan nog so maand of twee in die woonstel bly, maar daarna sal sy ’n ander plan moet maak.
“Hy het altyd vir my gesê ek moenie voor hom doodgaan nie en dan het ek gesê hy moet ook nie voor my doodgaan nie. Daar is hy nou weg. Ek weet nie wat gaan ek nou doen nie.” Die egpaar was 42 jaar getroud.
Mnr. Ferreira word oorleef deur sy vrou, Martie, kinders Janie, Jane en Joan, skoonseuns Corrie, Willem en Servaas, ses kleinkinders en een agterkleinkind.
Daar word more (Saterdag) om 13:00 ’n diens by die begraafplaas vir mnr. Ferreira gehou. Me. Ferreira sê daar kan nog ’n paar mense die begrafnis bywoon, aangesien hulle net ’n handjievol familie en vriende is wat daar gaan wees. Persone wat dit wil bywoon, kan haar bel by 082 064 8647.

