Ouers: “Staan eers by ’n kind se sterfbed”
Kan nie eers onthou hou oud ons was nie, kan nie eers onthou waarvoor ons ingeënt is nie.
Weet net ouers was bekommerd oor polio.
Daar was Lodewyck wie se een been veel dunner was. “Dit was toe hy as kind polio gehad het,” het die grootmense gefluister. Ons mag nie gesê het Lodewyck is “gebreklik” nie.
Daar was ’n heilige vrees vir polio.
Wanneer jy ingeënt is, het ma later gekyk of die ent “gevat” het. ’n Klein merkie, amper soos ’n blaartjie, het op jou arm gevorm. Ons was trots op ons ente. Het kort-kort aan ons ent gevat, want hy het gevat!
Toe kom die entstof teen Covid.
Was in hewige debat met familielede en vriende wat geglo het die spuit is van die bose. Dit verander jou DNA, dit vergiftig jou liggaam, oor drie jaar gaan jy verskriklike newe-effekte ervaar, dit is nie veilig nie, dit is nie getoets nie.
Sommige sleep sommer nog die Hemelse Vader ook by die debat in. Ander gebruik Hom as verskoning as hulle sou siek word of doodgaan.
Om die waarheid te sê word ek nog elke oggend gebombardeer deur waar die virus nou eintlik begin het, “dit is net ’n poging deur farmaseutiese maatskappye om geld te maak.”
Die nuutste is dat diegene wat ingespuit is, ander mense kan aansteek met die virus en dit word geïllustreer met “bewyse” van Pfizer af. Watter absolute opgediste klomp twak!
En die ergste, mense glo dit. Mense wat jy gedink het meer as drie breinselle het. Samesweringsteorieë is nog nooit in mensheugenis so vernietigend ingespan nie.
Joernaliste word gereeld aangeval met ’n: Moenie vir my sê jy glo ook in hierdie virus nie of “haal af jou masker, Covid is ’n klomp twak!”
Daar het vertwyfeling in my gemoed posgevat oor inenting.
Gaan jy spyt wees omdat jy gespuit het of spyt wees omdat jy nie gespuit het nie?Donderdagoggend in die vroeë ure laat weet ’n familielid hoe siek is sy, dit is verskriklik, dit is om die dood in die oë te kyk en soos iemand wat van die virus herstel het gesê het: “Somtyds wéns jy om liewer dood te gaan”.
Jy raak bekommerd oor joernaliste se geestestoestand, wat dag na dag gekonfronteer word met die doodsvlaag. Wat moet simpatiseer.
Wat net gister oor die telefoon trane moet help afvee, nadat ’n kind albei sy ouers aan die dood afgestaan het: Aan die virus! Die virus, julle wat steeds vir mense vertel daar is nie so iets nie: Covid-19!
Eintlik staan jy sommer moerig op.
Want kort nadat die familielid gebel het oor die virushel, laat weet ouers: “My kind is gisteraand dood aan Covid!”
Covid!!!!!!!
Daardie selfde ouer sê later die oggend aan Daleen Naude: “Die mense wat steeds die leuen versprei, dat daar nie ’n virus is wat mense doodmaak nie, moet by ’n kind se sterfbed staan!”
Dit sluit mense in wat steeds partytjie en ander mense se lewens in gevaar stel.
En dan kry jy nog ’n absurde WhatsApp wat vir die waarheid opgedis word.
Besef toe hoe stupid ons is.
Dat al die vrese maar tipies die blikkies-bymekaar-maak van 1994 is.
Vrese, vrese, vrese!
Vir wat?
Was van die eerstes toe Clicks sy deure vir die spuit oopmaak, nadat ek geregistreer het en daarheen verwys is, om my ent te kry.
Vinnig, vriendelik, geen seer arm, geen seer spuit, geen diarree, naarheid, kopseer, niks.
Ja, daar is mense wat ander simptome het. Ja, daar is mense wat seker steeds siek sal word.
Is vandag spyt…oor al die energie vermors: Op ’n nuttelose debat.
Myself bemoei met ’n spul spookopjaers. Mense wat glo daar was nooit ’n man op die maan nie.
Wat in 1994 na die berge gevlug het, omdat die land kwansuis sou vergaan.
Negatiewe mense.
Negatiewe mense, wat positiewe mense, negatief maak. Terwyl positiewe mense negatief wil bly (Tydens die Covid toets).
