Opiniestuk: Gebruik jou gesonde verstand
As dit jou beurt is om ’n rubriek te skryf in ’n tyd waarin die land brand en chaos heers, is dit maklik om ’n vinnige sedepreek af te steek oor hoe laag jy diegene beskou wat die vernietiging veroorsaak of oor hoe ons moet kalm bly en nie vrees nie want God is in beheer.

Ek hoor baie hoe mense sê ‘God het vir jou ’n gesonde verstand gegee’, veral as dit kom by dinge waaroor jy vinnig moet besluit en wat dalk voor die hand liggend lyk, soos om te ent of nie te ent nie.
As jy jou ‘gesonde verstand’ gebruik, is God dan in beheer of jyself of die bose?
Is dit nie dalk as gevolg van almal se ‘gesonde verstand’ wat ons sit waar ons sit nie. Het die gelowiges onder ons vergeet dat ons ’n Raadgewer het wat jy in alles moet raadpleeg?
Ek is meer en meer oortuig dat ons eie vlees en dikwels ons níé so gesonde verstand, ons grootste vyand is.
Waar is die ‘gesonde verstand’ van die mense wat ’n winkelsentrum in ’n oogwink kan wegdra vra jy? Of het hulle dit juis gebruik toe hulle ’n vurkhyser gevat het om ’n hoop platskerm televisiestelle weg te dra? As jy nie kos het nie, ’n daaglikse bestaan van hand tot mond voer en moet baklei vir kospakkies en SASSA aalmoese, gaan jou gesonde verstand mos vir jou sê dat jy nie hierdie geleentheid kan mis om iets, enige iets, te aas nie. Terwyl dit pap reën…
Ek kyk na die hordes mense wat winkelsentrums bestorm en ek kan nie help om te dink dat hulle ook sekerlik kinders het, toekomsdrome en blydskap en angs ervaar. Hulle kan tog nie soos die zombies wees wat Hollywood ons wys, net vleis en asem, wat doen sonder enige gedagtes nie?
Hoekom neem party mense so blymoedig aan die verwoesting deel? Besef hulle nie wat hulle verwoes nie? Glo hulle dalk dat dit nodig is om tot op die grond af te breek, sodat daar iets nuuts en beters gebou kan word?
Is dit omdat hulle geen eienaarskap het van dit wat hulle verwoes nie? Of het hulle dalk geen hoop oor nie behalwe vir die hier en die nou? Jy moet jou kans hier en nou vat en gryp wat jy kan kry.
Mens sien videos van ’n man wat sukkel om ’n reuse televisiestel in sy ou Toyota Corolla in te pas en ’n ander man wat met sy ontwerpersklere ’n mandjie vol goed na sy blink Mercedes toe aandra. Gebruik hulle dieselfde gesonde verstand?
Wat gaan iemand, wat in ’n sinkhut sonder elektrisiteit bly, doen met ’n LG Nanocell televisie? Sy gesonde verstand sal seker vir hom sê om dit te verkoop en iets anders met die geld te koop. En as die geld op is?
As jy van dag tot dag leef maak jou gesonde verstand jou dalk wys dat jy op nou moet fokus, more is ’n ander geveg.
Hoe hou mens jou kinders positief in hierdie tyd? Hulle sien die kommer op hul ouers se gesigte, hoor dit in hul stemme en kyk saam na videos van verwoesting.
Ander kinders sien hoe hul ouers met waardevolle items, dronk van opwinding, by die huis opdaag. Kinders wat nog moet groot word en ’n bestaan maak en dinge bou in hierdie land waar ons gebore en geskoei is.
Wat moet hulle gesonde verstand nie vir hulle sê oor al die dinge wat hulle ervaar nie.
’n Vriendin wat in Johannesburg bly deel ’n foto van haar dogtertjie wat beangs aan haar teddiebeer vasklou. Sy kan nie slaap nie want die nag is gevul met klanke van sirenes, geweerskote en mense wat skree.
’n Ander plaas ’n foto van haar seuntjie se windbuks wat hy langs die bed laat lê vir beskerming.
Vriende van oorsee bel en stuur boodskappe om te hoor “Is julle nog veilig” en kry dan ’n stekie in “Dit is hoekom ons gevlug het toe ons nog kon.”
Hulle gesonde verstand het hulle genoop om ver oor die waters te gaan kinders grootmaak in ’n vreemde land met vreemde mense en vreemde maniere.
Bogger al hierdie gesonde verstand dinge! Die vlees is bedrieglik, iemand met ’n gesonde verstand het duisende mense in gaskamers vermoor, terwyl hordes ander dit toegelaat het, gesonde verstand het ’n atoombom op ’n stad laat val, gesonde verstand kap mense se koppe af in die naam van geloof.
Vir die wat na hoop soek, verwyderd van enige iets wat jou gesonde verstand jou kan wysmaak, gaan lees Hebreërs 13:14 en ook Fillipense 3:19-20.
Vir die wat goddeloos is, gebruik jou gesonde verstand en ignoreer hierdie boodskap.
Mag julle, en veral ons kinders, vrede ervaar wat alle verstand te bowe gaan. (Fillipense 4:4-7).
Do you have a news lead?
Contact our editorial office on 013 243 1434, send an email to our newsroom or contact our standby number 072 248 3855 to share your story with us. Follow us on the Middelburg Observer Facebook page or join our WhatsApp group for the latest news.
Notice: Coronavirus reporting at Caxton Local Media aims to combat fake news
Dear reader,
As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online.
Caxton Local Media is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol.
A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19. Readers with any comments or queries may contact National Group Editor Irma Green (irma@caxton.co.za) or Legal Adviser Helene Eloff (helene@caxton.co.za).
