News

Selfs die honde geniet hulle roomys

In sy jare agter die stuur van sy singende roomyskombi, het Phlip Lewis al skreeusnaakse oomblikke beleef so tussen die roomys deur. As hy álles moet vertel, sal hy ’n boek kan skryf.

Hy onthou toe hy ’n fees op Graskop moes gaan doen en hy en vroulief besluit het om sommer ’n naweek daarvan te maak. Die plan was om die roomyskombi agter sy bakkie te haak en dan by Crystal Springs af te haak en dan bergaf net met die kombi te ry.

“Daar gekom, was die mis só dig dat ons heeltemal by die afdraai verby gery het!” Net daar het die moeilikheid begin, want die kombi was te swaar. “As die bakkie links gegaan het, dan stoot die kombi ons regs! En so slinger ons toe maar voort.” Dit was egter só erg, dat sy vrou naderhand gedreig het om uit te spring, “toe kry ek gelukkig die plan om teen die randsteen te skuur en so spoed te verminder. Nodeloos om te sê, dit het my ’n wiel gekos en geen fees of wegbreek naweek nie!”

•Tydens die Forelfees het daar een oggend omstreeks 08:30 ’n man in die bittere koue by die roomyskombi aangekom.

“Sy sakgeld was in ’n Ziplock sakkie, maar sy hande het só gebewe dat hy nie die sakkie kon oopmaak nie. Phlip het hom jammer gekry en sê: “toemaar, vat maar die roomys, as dit warmer is, kan jy nog een kom koop. As ’n man lus is vir ’n roomys, is jy lus!” •By nog ’n fees het ’n mollige knapie opgedaag om roomys te koop. Terwyl die seun nog daar staan, het Phlip gesien hoe ander seuns verby kom en hom koggel.

“Hulle het vir hom gesê, as hulle soos hy gelyk het, sou hulle nie nog roomys gekoop het nie. Sy antwoord was dadelik: ‘ek gaan ook nie hierdie roomys eet nie.’ Daarna vat hy die roomys, loop na hulle toe en druk die roomys plat teen die een outjie se bors. Toe kom koop hy vir hom ’n ander roomys en eet te heerlik.”

•Dan was daar die storie van ’n student wat vir hom en sy twee vriende kom roomys koop het. Een van die ander twee het gekeer en gesê hy wil nie roomys hê nie.

“My raad aan hom was om dit vir iemand anders te gee en daardie persoon gelukkig te maak. En daar wou niemand dit aanvaar nie, want hulle vertrou nie die vrygewige man nie! Die ou was so verleë.” •Sy kleinkinders is baie na aan sy hart en oupa Phlip vertel van die keer toe sy kleinseun se maatjie en ouers vir die eerste keer daar kom kuier het. Die kleingoed het buite gespeel en die maatjie het die roomyskombi’s gesien.

Phlip sal nooit vergeet hoe die knapie uitasem by die huis instorm en gil: “Mamma, daai oom van die roomys is sowaar Sebastiaan se oupa! Hoe cool is dit!”

•Phlip sê mense koop nie net roomys vir die kinders en hulself nie, maar ook vir hul honde. Bykans elke Sondag moet die roomyskombi by ’n joernalis van die Middelburg Observer se huis stop, sodat daar roomys vir die drie honde gekoop kan word! •Woensdagoggend het Phlip en sy kombibestuurder, Jorrie Jordaan en sy seun, Adriaan, vir al die inwoners van Koppiestraat gratis roomys gegee.

“Die inwoners het dit vreeslik geniet. Hulle het weer soos kinders gevoel!” het Koppiestraat bestuurder, Olga Smith, hul dankbaarheid verwoord.

•Phlip het ’n jaar gelede al sy model VW Kombi’s en oulike Volkswagentjie voor op die paneel van die kombi afgehaal nadat een gesteel is. Hierdie week het hy hulle egter weer teruggesit, omdat dit “altyd soveel vreugde aan ons kliënte verskaf om daarna te kyk, terwyl hulle vir hul roomys wag.”

•Persone wat Phlip se roomyskombi’s wil bespreek vir funksies, partytjies, sportbyeenkomste, feeste of markte, kan hom bel by 083 235 8260.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button