Beserkte man val mense met graaf en klippe aan
’n Beserkte man het vanmiddag kinders in alle rigtings laat hardloop toe hy met ’n graaf advertensieborde begin stukkend slaan en later klippe na mense gegooi het.
Die drama het kort na 15:00 by die Kanonkop netbalbane begin waar kinders besig was om netbal te speel.
’n Ouer wat gewag het vir haar kind, het die gekap gehoor en videomateriaal geneem toe die man met ’n graaf teen pale en advertensieborde begin kap.
’n Mens kan sien hoe die kinders in alle rigtings hardloop.
Vandaar het hy ombeweeg na die jukskeibane waar hy teen nóg borde en pale gekap het.
Hy het afgehardloop in Asaleastraat in die rigting van die laagwaterbruggie en met die graaf en ’n ander selfgeprakseerde wapen op mense toegesak. Hy het ook klippe na hulle geslinger.
Mnr. Chris van der Walt (Operasionele bestuurder, Titon Sekuriteit) sê hy is omstreeks 15:30 deur Ruan Cloete (reaksiebeampte, HiSQ Sekuriteit) en Heinrigh Venter gekontak om hulle te kom help. Hulle het gemeld dat hulle sukkel om ’n beserkte man te probeer kalmeer.
“Ek het van Lilian Ngoyistraat se kant af in Asaleastraat af ingedraai en my bakkie op die laagwaterbruggie gestop.”
Hy het dadelik die man, wat duidelik onstabiel is, gesien.
Mnr. Van der Walt sê die man het na hom toe aangehardloop gekom en ’n rots na hom toe geslinger. Hy kon gelukkig betyds koes.
Die volgende oomblik het hy met die graaf ’n duik in mnr. Van der Walt se bakkie geslaan en ook met die graaf en sy wapen na hom geslaan.

Hy het vir mnr. Van der Walt geskree: “jy is die tokkelossie!” en gesê hyself is ’n medium. Hy het ook gesê dat hy die krale om sy nek dra om hom teen die ‘tokkelossie’ te beskerm.
Terwyl hy na mnr. Van der Walt geslaan het, het mnr. Van der Walt sy knuppel; uitgehaal om beskermend voor hom te sit, dat die graaf hom nie teen die kop en lyf tref nie.
In die proses het die onstabiele man sy ewewig verloor en geval, waarop mnr. Van der Walt hom teen die grond vasgepen en hom geboei het. Polisielede in privaat klere het op daardie stadium daar gestop en is die man aan hulle oorhandig.

Mnr. Van der Walt sê hy is dankbaar dat niemand ernstig beseer is met die graaf en wapen wat die man rondgeswaai het nie. Die selfgeprakseerde wapen is gemaak uit ’n stuk staal, met ’n ronde bal-tipe ding vooraan, waarin staalpenne is.
