Ferdie was altyd gereed om te help
Ferdie Labuschagné (39), die man wat alles sou en wou doen vir sy medemens, is Vrydagaand in die Middelburg Hospitaal oorlede, waar hy vir ’n week vir nagevolge van die Covid-19 virus behandel is.
Sy verloofde, Vienie Reis, sê hy was al op dag 10 vandat hy positief vir die virus getoets het, toe hulle hom moes laat opneem omdat sy suurstofvlakke baie laag was.
Die paartjie het elke dag per video-oproep met mekaar gesels.
Sy onthou dat hy haar Vrydag om 03:30 gebel het om te sê dat hy baie siek was deur die nag. Daarna het sy toestand drasties agteruit gegaan en die hospitaal het haar omstreeks 21:30 laat weet dat hy oorlede is.
Sy het hom beskryf as ’n saggeaarde, goeie mens wat altyd beskikbaar was om ander te help.
“Hy het nooit sy foon afgesit nie, almal kon hom enige tyd bel en hy sou bel. Hy was net so goed vir my ook.”
Hulle sou op 3 September 2022 getrou het.
Ferdie was lank by die CSC Tactical Sekuriteitsmaatskappy en die afgelope paar maande die bemarkingsbestuurder by Titon Sekuriteit.
Hy word oorleef deur sy verloofde, Vienie, dogters Esli en Esmé, ouers Charles en Driena, Annemarie en Ampie, en suster Leoni.
•Die familie is nog besig om begrafnisreëlings te tref.
•Vienie en haar ma, Vienie (snr) het dieselfde tyd as Ferdie ook beide positief vir die virus getoets. Sy meld dat syself tuis aangesterk het, maar dat haar ma in die Life Midmed Hospitaal opgeneem is.
“Dit gaan egter baie beter met my ma en ons glo dat sy vroeg hierdie week ontslaan sal word.”
