Speel nog met kleinkinders, sterf skielik
Net etlike dae nadat Kevin Horsford (62) nog met sy kleinkinders gespeel het, het hy inmekaar gesak en by sy seun, Jonathan, se huis gesterf.
Jonathan vertel dat sy pa sowat ’n maand gelede ’n effense verkoue gehad het, maar herstel het. Sondagaand het hy nog, soos gewoonlik, met die kleingoed in die huis gespeel.
Maandag het hy begin kla van maagpyn en naarheid en hy het teen Donderdagoggend so sleg gevoel, dat hulle besluit het om hom hospitaal toe te neem.
Hy het etlike treë van die kar af inmekaar gesak en ’n ambulans is ontbied. Kort na hul aankoms is hy dood verklaar.
Mnr. Horsford was vir jare ’n inwoner van Kriel, waarna hy ongeveer 16 jaar gelede na Middelburg verhuis het.
“My pa was ’n opregte mens met ’n sagte hart, lief vir diere, veral perde, en die plaaslewe. Almal wat hom geken het, het geweet hy was altyd daar vir almal, gehelp waar hy kon en mense gehelp in moeilike tye. Bitter baie mense het hom geken want hy het baie diep spore in mense se harte gelos,” het Jonathan oor sy pa gesê.
Mnr. Horsford word oorleef deur sy ma, Monica Horsford, broers Paul en Shaun, seuns Jonathan en Edward, en kleinkinders, Paul, Vianca, Jasmine, Keagan, Amber, Edward (jnr) en Kevin (jnr).
Die begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.
