Manne en vroue trotseer koue om almal veilig te hou
Mans en vroue van die Noodroep Radiogroep Sektor 3 in Middelburg het Vrydagaand die bittere koue trotseer om patrollie deur die dorp te ry.
Voor hulle deur die dorp begin ry het, het Johan en Ruan Rootman, van Blitzkrieg K9 ’n vertoning gelewer met hul opsporingshond, “Sheriff”.
Ruan het die donker in verdwyn, waarna “Sheriff” hom binne 25 minute opgespoor het.
Die hond snuif nie op die grond om die persoon op te spoor nie, maar in die lug. Hy het ook glad nie die draaie gehardloop wat Ruan gehardloop het nie, maar in ’n reguit lyn en hom opgespoor.
Mnr. Glen Mortelmans (van Mortelmans Sekuriteit) het advies verskaf hoe om meer suksesse te behaal in hul stryd teen misdaad.
“Misdadigers is slimmer as wat ’n mens dink en jy moet altyd een voor hulle wees.”
Hy het gemeld dat die patrollies en hul sigbaarheid baie belangrik is in die dorp, aangesien dit die misdadigers pla en hulle na ander plekke toe sal laat uitwyk.
•Marnus Uys, die mediawoordvoerder van Noodroep Radiogroep Sektor 3, sê alhoewel daar nie enige ernstige voorvalle was nie, hulle tog opgemerk het dat baie mense nog die aandklokreël oortree.
“Ons het baie voertuie na 22:00 op die pad gekry.”
•Persone of sekuriteitsfirmas wat betrokke wil raak by die patrollies of die radiogroep se werksaamhede, kan Marnus bel of ’n WhatsApp boodskap stuur na 060 488 4775.
