Papapavlou moord: Vrou vermoorde man se erfgenaam
Die borgaansoek van Simoné Papapavlou is tans in volle swang voor die Groblersdal Landdroshof. Haar verklaring is aan die hof voorgelê en die ondersoekbeampte in die saak het getuig oor hoekom die staat borg teenstaan.

Simoné Papapavlou – staat het swak saak teen my
Simoné Papapavlou se verklaring is aan die hof voorgelees tydens haar formele borgaansoek in die Groblersdal Landdroshof.
Volgens die verklaring bly sy sedert November 2020 by haar ouers in Bronkhorstspruit.
Sy is tans werkloos en beweer dit is hoofsaaklik as gevolg van gerugte op sosiale media en mediaberigte. Voor haar man, Raymond, se dood het sy by Dinkwe Safaris, wat aan sy oom, Japie Jonker, behoort, gewerk.
Raymond het nie ’n testament gehad nie. Simoné is die erfgenaam van sy boedel maar dit is nog nie afgehandel nie.
Simoné het al die aantygings teen haar ontken en gesê dat die staat ’n swak saak teen haar het.
Sy het verklaar dat sy reeds in Oktober 2020 vuurwapens aan die polisie oorhandig het waarvan sy intussen twee teruggekry het. Die wapens is verlede week weer aan die polisie oorhandig.
Sy het ook verklaar dat sy haar beskikbaar gestel het vir die polisie en met ’n vorige geleentheid op pad was om haarself aan die polisie te gaan oorgee toe sy gebel en ingelig is dat dit nie nodig sal wees nie, omdat daar nie genoeg bewyse teen haar is nie.
In haar verklaring sê Simoné dat Smith op R5 000 borg vrygelaat is en dat dieselfde voorreg haar gegun moet word.
Ondersoekbeampte: Gif op ’n braaibroodjie en lewenspolisse
Die ondersoekbeampte, a.o. Debbie van Zyl, het aan die hof gesê dat Simoné en Smith in ’n verhouding was sedert November 2019.
Volgens a.o. Van Zyl lei Simoné se verklaring aan die polisie dat sy besig was om televisie te kyk, toe sy skote in haar man se kamer gehoor het. Haar hond het na ’n deur tussen die twee vertrekke gestorm, toe iemand dit probeer oopmaak het en sy het skote na die deur gevuur.
Sy het volgens a.o. Van Zyl in haar verklaring gesê dat sy skaduwees gesien en stemme gehoor het.
A.o. Van Zyl het vertel van die voorval in Mei 2020 toe Papapavlou siek geword het nadat sy vrou vir hom ’n braaibroodjie gegee het. Simoné en twee ander vroue het die broodjies gemaak en sy het glo eerste vir Papapavlou opgeskep.
A.o. Van Zyl sê dat sy bewyse het dat Simoné na Two-Step gif gesoek het in Johannesburg. Sy het ook ’n verklaring van ’n getuie wat lui dat Simoné na die beweerde mislukte vergiftiging in Mei 2020, gesê het dat sy na ’n geweer soek.
Sy het getuig dat sy dink die motief van die moord nie net vryheid uit die huwelik was nie maar ook finansiële gewin.
A.o. Van Zyl het verwys na ’n dokument wat deur Simoné opgestel is waarin sy sê dat sy verskeie waardevolle items soos ’n dubbelkajuitbakkie, skootrekenaar en selfoon, R8 000 per maand en twee jaggewere wil behou en ook dat sy steeds op Papapavlou se mediesefonds wou wees as hulle sou skei.
Sy het ook getuig dat Simoné na haar man se dood na bewering reeds ’n Platinum Life polis geëis het en gesê het dat haar man in ’n plaasaanval dood is.
Simoné se ma was voorheen by Absa werksaam. Daar is in Julie 2020 ’n polis op Papapavlou se lewe uitgeneem, waarvan Simoné die begunstigde is.
A.o. Van Zyl sê dat Simoné se vrylating op borg nie in die belang van geregtigheid is nie, omdat sy ’n uiters sensitiewe saak soos ’n plaasaanval gebruik het om arrestasie vry te spring.
“Sy het die regsstelsel en die mense naaste aan haar in die gemeenskap verraai,” het a.o. Van Zyl gesê.