Motoris oorval, venster uitgeslaan
’n Motoris se voertuig is gister beskadig en daar is gepoog om hom uit sy bakkie te pluk by ’n stopstraat op pad werk toe.
Die man sê dat hy teen sowat 06:00 die oggend op pad werk toe was en by die stopstraat by Midway Inn wou links draai. Daar het skielik drie mans op hom toegesak, sy bakkie se passasiersvenster uitgeslaan en hom deur die stukkende venster met ’n bierbottel gegooi.
Die man het versoek dat sy naam weerhou word.
’n Ander man het sy voorruit met ’n klip gegooi. Die man sê dat hy so geskok was dat dit hom ’n tydjie gevat het om tot sy sinne te kom en weg te jaag.
By die polisiestasie was daar drie ander motoriste wie se voertuie op soortgelyke manier beskadig was. Die man het gesê dat dat al vier voorvalle binne 20 minute, tussen 05:50 en 06:10, by die stopstraat gebeur het.
“Ek weet nie of dit met die stakings verband hou nie, maar wat hulle probeer bereik het is vir my ’n raaisel,” het die man gesê.
Die N11 is later van die stopstraat by Midway Inn tot by die N4 deur protesaksie geblok. ’n Bus, minibus taxi en trok is aan die brand gesteek.
