Psalm 23 en Onse Vader vir Wessel
Net ’n dag voor Wessel Coetzee (69) se afsterwe het die trane geloop toe sy dogter vir hom Psalm 23 voorgelees het.
Mnr. Coetzee is gisteraand weens nagevolge van die Covid 19 virus in die intensiewe eenheid van die Life Midmed Hospitaal oorlede.
“Ek het Maandag én Dinsdagaand met hom gepraat per video-oproep. Ek wéét hy het my gehoor, want toe ek Psalm 23 vir hom lees en die Onse Vader vir hom bid, het die trane geloop,” het sy dogter, Adeline, vanoggend gesê.
“Psalm 23 was my ma, Alta, se gunsteling gedeelte in die Bybel.”
Alta is in Februarie 2013 oorlede.
Adeline sê haar pa is op 19 Julie in die hospitaal opgeneem en is op 24 Julie na die intensiewe eenheid geskuif. Op 2 Augustus is hy onder verdowing en op ’n ventilator geplaas.
“Die dokter het nog Maandag gesê dat dit begin beter gaan,” het sy hartseer gesê.
Mnr. Coetzee was welbekend op Middelburg. Hy het as jong man by Smit en Grobbelaar Begrafnisdienste op die dorp gewerk, tot dit Saffas geword het.
Nadat hy weg is by die begrafnisbesigheid, het sy vrou, Alta, die leisels oorgeneem. Sy was net so bekend eers by Saffas en later by Doves Begrafnisdienste.
In Desember 1980 het mnr. Coetzee by Columbus Stainless begin werk en was daar tot met sy aftrede in April 2012. Hy het daarna nog vir ’n paar maande gehelp as hulle hom nodig gehad het.
Die laaste ruk het hy gewerk by Middelburg Easy Skips.
Adeline het haar pa beskryf “as ’n bok vir sports, almal het hom so geken. Pa was altyd daar vir almal en sy kleinkinders was sy lewe.”
Sy seun, Quintin, het gesê: “Pa was die beste man vir ons moeder en kinders gewees. Ek weet Pa het nou weer die beste tyd van Pa se lewe in die Hemel daar waar Pa rus gaan vind. Ek sien klaar hoe die engele en Moeder wag vir Pa in die poort van ’n nuwe lewe. Dankie vir al die oproepe elke dag, daai omgee en praatjies. Gaan dit baie baie mis. Pa was my legend gewees. My hart is in duisende stukkies.”
Mnr. Coetzee word oorleef deur sy kinders, Quintin, Mauritz en Adeline, skoonkinders en drie kleinkinders.
•Daar is nog geen begrafnisreëlings getref nie.
