News

Sekuriteitsbeampte red kind se lewe

Dwayne Jacobs (33) sien homself nie as ’n held omdat hy ’n kind voor ’n aankomende kar weggeruk en sy lewe gered het nie.

“Ek het maar net my werk gedoen,” het dié nederige sekuriteitsbeampte van Titon Sekuriteit gesê.

Hy was Dinsdagmiddag op sy pos by Eastdene Combined School en het van die personeel gehelp dat die kinders die straat veilig oorsteek.

“’n Seuntjie van omtrent agt jaar oud het skielik van agter af aan my linkerkant verby gehardloop.”

In ’n breukdeel van ’n sekonde het Dwayne opgemerk dat daar van albei rigtings af voertuie aankom. “Die een kar het baie vinnig gery.”

Sonder om aan sy eie veiligheid te dink, het hy vorentoe gespring, die seuntjie onder sy arms beetgekry en terug geruk na die sypaadjie toe.

“Ek het hom op die sypaadjie langs my neergesit.”

Op dieselfde oomblik wat hy die kind teruggeruk het, het hy ’n geweldige klapgeluid gehoor en het daar ’n pyn deur sy skouer geskiet.

Later die middag het sy hand begin blou word en hy is na die Life Midmed Hospitaal se Middok24 Ongevalle Eenheid geneem.

X-strale het later gewys dat skroewe in sy skouer, wat ingesit is tydens ’n vorige skietvoorval, afgebreek het. Dit is ’n aanduiding met watter geweldige impak hy vorentoe en terug geruk het om die kind te red.

Dwayne sê dat hy moontlik geopereer sal word om nuwe skroewe in die skouer te sit.

•Met die skietvoorval etlike jare gelede, het Dwayne as lyfwag vir ’n bekende persoon in Gauteng opgetree en is hy in die skouer gewond in die proses om die persoon te beskerm.

Die verdagte is etlike dae na die skietvoorval deur die polisie gearresteer en ook skuldig bevind.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button