News

Jy hoor al die getikketik en proe die stasiepastei!

Die eerste fase van die museum by die Middelburg Stasie open eersdaags, maar is dit reeds só mooi by dié nasionale gedenkwaardigheid, dat dit ’n gewilde plek is vir fotosessies.

Johan Janse van Rensburg het hierdie week vir www.mobserver.co.za gaan wys hoe ver hulle al gevorder het om alles gereed te kry vir die amptelike opening van fase een.

’n Mens sien hoekom fotograwe in vervoering is oor die stasie, wanneer die bosse madeliefies by die hoofgebou jou begroet. “Dok Kobus Terblanche het dit self kom saai en ons moet dit net in stand hou,” begin Johan al geselsend die toer. Net so links van die hoofingang is ’n koekepan staan gemaak “wat my pa, Buks, vir my in 1997 gegee het.” Hy sê die plan is om nog ’n paar koekepanne te kry en dit dan vol blomme en ander plante te maak.

As die hoofdeur oopkraak na die koffiehuis, voel dit of jy baie donkiejare teruggaan, want oral pryk foto’s van lokomotiewe.

Jy sien reeds in jou geestesoog hoe daar mense by die tafeltjies gaan saamkuier. Die tafeltjies vir die koffiehuis, is wagkamerplankies wat hulle afgeskuur en tafeltjies van gemaak het.

Die stoele is regte ou stasiestoele, wat tans nog gerestoureer word. Regs is ’n lewensgrootte swart en wit foto van ’n 2526 19D lokomotief, wat nog in Waterval Boven staan. Hy sal tydens die latere fases van die museum na Middelburg kom. Agter teen die muur trek ’n tafeltjie, met wat lyk soos ’n glasblad, jou aandag.

“Dit is die rytuigvenster wat Johan de Wet vir die museum geskenk het. Jimmy Silinda en Pottie Potgieter het dit in ’n tafeltjie omskep. In daardie hoekie, by die tafeltjie, sal daar twee stoele en boeke wees vir mense om te kom sit en oor die geskiedenis te lees.”

Die tafeltjie se “pote” is treinspore! Bokant dié hoekie verkyk jy jou aan die Loko-plate teen die muur. Alhoewel hy nog nie die museum-artikels alles opgehang het nie, laat hy tog toe dat die joernalis by die twee museumkamers inloer.

By die deur hang reeds twee driekleur handlampies wat die ouer garde beslis nie sal miskyk nie. Hy stap om na die perron en maak nóg ’n vertrek se deur oop waar hulle besig is om die geverfde kosyne skoon te skuur, sodat die praghout gesien kan word. “In hierdie vertrek beplan ons om die ‘Stoom Pub & Grill’ te hê.”

In wat later die kroegie sal wees, sal sowat agt mense kan sit. Die ander gaste kan buite op die perron kuier. Hy sê hier sal besoekers regte “Stasie pies en gravy, en ander outydse stasielekkertes kan geniet.”

Loop jy uit na die perron, kan jy nie glo dit is dieselfde plek van ’n maar maande gelede nie.

Daar is nie ’n teken van lang gras of onkruid nie en is alles om die treinspoor ook skoon en netjies.

Terwyl jy wegloop, kyk jy vir ’n oomblik terug en glo die spoorwegbloed in jou dat jy beslis die getikketik van die trein op die spore gehoor het.   •Persone wat nog artikels wil skenk vir die museum, kan Johan bel of WhatsApp by 082 696 3884.

•Mense wat wil uitstal by die “Opi Stasie”-fees (16 Oktober) om die eerste fase amptelik te open, kan Amóre (Johan se dogter) bel by 081 718 5407.

•’n Werknemer van die Middelburg Observer, Miemie Smit, het hierdie week ’n handlampie, asook ’n groot stapel foto’s, wat sy geneem het van lokomotiewe deur die jare, vir die museum geskenk.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button