Vrou staar in loop vas tydens vroegoggend roof
Vir Isabell Rabie het misdaad ’n onoorwinbare stryd geword, wat haar keer op keer tref, wanneer sy net probeer oorleef.
Sy probeer om die trane te keer, toe sy vertel hoe twee mans ’n wapen teen haar kop gedruk het, om haar handsak te roof. “Binne die handsak was my hele lewe.”
Isabell is die eienaar van Tracers, ’n kroeg in Eksteenstraat, wat uitkyk oor Van Blerkpark. Vanoggend om 08:00 toe sy oopsluit, het twee mans haar bestorm.
Isabell en haar dogter, Dynette, wat saam met haar werk by Tracers, sê dat hulle gou skuins voor die kroeg gestop het sodat Isabell kan uitklim en Dynette haar kind gou kon aflaai.

Dynette het gewag vir haar ma om oop te sluit, voordat sy wegry, en het gesien hoe alles voor haar oë afspeel.
Toe Isabell by die deur is, het twee mans wat teen die heining van die park gestaan het, op haar afgestorm, wapens uitgepluk en haar gedreig. Hulle het met die handsak gevlug, in die rigting van die park.
Sy het ongeveer R8 000 se kontant, haar beursie met al haar kaarte, rybewys en identiteitsdokumente, haar werk se bos sleutels, selfoon en selfs haar bril verloor.
Dynette het die polisie gebel om ’n saak aan te meld, wat teen 12:00 steeds nie opgedaag het nie.
Isabell het vertel dat die voorval haar nie net getraumatiseer het nie, maar ook verbitter het, omdat sy haar vingers stomp werk om oorlewing, net sodat iemand daarmee kan wegkom.

“Daar is al sewe keer by my besigheid ingebreek en elke keer kom daar niks van nie, dit laat mens voel dis nie meer die moeite werd om ’n saak by die polisie aan te meld nie.”
Indien iemand moontlik Isabell se identiteitsdokumente, kaarte of sleutels optel, kan hulle Dynette kontak by 076 474 2766.
•Isabell en Dynette het videomateriaal van die roof beskikbaar gestel. Die kameras is so geleë dat mens nie kan sien hoe hulle haar roof nie, maar wel hoe hulle op haar afstorm en dan weer vlug.
