News

Boer hoor hoe perde runnik terwyl hulle doodbrand

Terwyl ’n boer saam met sy twee seuns moes vlug, tussen vlamme deur na veiligheid, het hy magteloos gehoor hoe perde runnik terwyl hulle doodbrand in ’n veldbrand.

“Al ons weiding is verwoes. Ons vermis steeds sewe perde en oral lê klein bondeltjies….lammers wat nie kon wegkom voor die vlamme nie. Gelukkig kon ons darem die volstruise red. Twee van my perde sal ek netnou moet gaan skiet, want hulle kry swaar met die brandwonde. Dis net so hartseer. Ek het net nog die die moed en krag gehad om dit te doen nie,” het mnr. Jan de Wet vertel, terwyl sy stem breek van emosie.

Hy het van die traumatiese gebeure van Saterdag vertel waar hy en sy drie seuns, Herman, Tolla (23) en JP (22) saam met talle ander boere vir meer as 15 uur teen vlamme gestry het.

Net om daarna saam met Tolla en JP self vasgekeer te word tussen die vlamme.

Die klein liggie in die oranje vuur was mnr. Jan de Wet se bakkieligte, terwyl hy, met sy twee seuns by hom in die voertuig, weg gejaag het vir ’n vuur wat hulle vasgekeer het.

“Ek het net aangehou jaag, ons was in die middel van die vlamme met die wind wat skielik gedraai het.” Mnr. De Wet onthou elke minuut van die vlammehel in die fynste detail.

Die drama het reeds “Vrydag begin op tannie Miemie van Niekerk se plaas,” en hy verduidelik dat dit geleë is op die R36 (Carolina/Machadodorppad).

Omstreeks 23:00 Vrydag was die vuur dood, “maar omstreeks 08:30 Saterdag het die vlamme op ’n manier weer opgestaan aan die Noordekant van die R36. Die vuur was buite beheer….”

JP de Wet veg ten die vlamme met die vuurspuit.

Teen 14:00 het dit gelyk op die brand weer onder beheer is, maar dit het skielik weer opgevlam.

“Ek vermoed dit het aan die Suidekant van die R36, deur Manie Bothma se plaas deur die klowe aangekom. Ons het op ’n stadium 300 beeste in die Kwaggafontein omgewing in die grondpad ingejaag om die diere te red.”

Met die geweldige wind skat hy dat ’n totaal van nege plase, van tussen 3 000 tot 4 000 hektaar, waaronder die hele Kwaggafontein, Hawerfontein en Hebron, verwoes is.

Sy oudste seun, Herman (24), het van die Nyoni Boerdery se kant af heen en weer saam met hul werkers gejaag om vuurspuite vol te maak.

Mnr. De Wet, Tolla en SJ het saam met hordes ander mense die vure oral probeer keer.

By hul grensdraad het mnr. De Wet besef die brand is buite beheer en het hy ’n teenbrand probeer maak om die vuur terug te laat brand.

Tolla de Wet probeer met hul vuurspuit die vlamme blus.

Die wind het egter gedraai en hom en sy twee seuns vasgekeer.

“Ons was vas, die brand het van die Ooste- en Westekant gekom. Ons was in die middel.”

Hulle het gehardloop vir die bakkie en net aangehou jaag.

Kort voor 18:00 het hy dié noodroep uitgestuur met ’n asem wat jaag: “Dinge is lelik! Ek is die enigste ou wat aan die Oostekant baklei saam met my twee seuns. My vee is in die veld. My houthuis is in die veld. Die vuur is op pad na my toe. Die helfte van die plaas is afgebrand. Ons het hulp dringend nodig! Asseblief, enige hulp, ek is 10km buite Carolina op die Machadodorppad, drie kilometer op die Hebronpad. Asseblief, enige hulp!”

Talle boere en ander organisasies van die Carolina, asook Machadodorp, Hendrina en selfs sakelui van Middelburg en eMalahleni het soontoe gejaag om hulp te verleen.

Selfs Kutana Hydraulics, van Middelburg, het gaan help toe hulle hoor wat die omvang van die brand is.

’n Paar boere het na die houthuise op die plaas gejaag en ’n teenbrand gemaak dat die vure nie die huise afbrand nie.

Mnr. De Wet het nooit aan sy eie veiligheid gedink nie, hy wou net sy seuns by veiligheid kry.

“Ons het gehoor hoe die perde runnik, maar kon niks doen nie. Ek het geweet hulle brand dood.”

Sondagoggend het hy eers besef hoe gelukkig hulle was om die brand te oorleef, want selfs hul hare en baarde het geskroei en almal het erg gehoes van die rook.

Talle lammers het doodgebrand wat nie voor die vuur kon uitvlug nie.

“Ons is egter dankbaar almal leef.”

Sondag was vir hom ’n verskriklike dag, want toe eers het hy die volle omvang van die brand besef en oral die dooie lammers gekry. Met al die verwoesting en hartseer ten spyt, is hy baie dankbaar dat daar geen lewensverlies was nie en dat hy soveel hulp en liefde van almal gekry het.

“Sê asseblief dankie vir elkeen wat saam met ons geveg het teen die vlamme. Vir my seuns, Nyoni Boerdery, al die boere, die ander persone en organisasies, Kutana Hydraulics wat help veg het en reeds ses bale voer gebring het en ook Voedingbystand van Oranjeville vir die baie voer wat hulle gebring het. Die mense wat nie kon help nie, maar wel gebid het vir ons, julle weet nie wat dit beteken het vir ons nie. Baie dankie.”

Een van die perde wat mnr. Jan de Wet Maandag moes skiet omdat die dier erge brandwonde opgedoen het.

•Net buite Hendrina, op die Arnotpad, was daar Saterdag ook ’n brand. Die hulp van die brandweer en verkeer is ingeroep, aangesien die digte rook sig bemoeilik het.

•Xtreme Promotions Sound and Lightning het intussen ’n video vrygestel, om almal te bedank wat na die tyd hulp verleen het om boere weer op die been te kry.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button