Papapavlou borgaansoek uitgestel vir uitspraak
Die borgaansoek van Simoné Papapavlou is vandag voortgesit in die Groblersdal Landdroshof.
Simoné se borgaansoek is tot laat vanmiddag aangehoor en toe uitgestel tot more vir uitspraak.
Sy en Patricia Ray-Lee Smith word aangekla van die moord op Raymond Papapavlou, wat in Oktober 2020 op Rooikraal, tussen Stoffberg en Groblersdal, doodgeskiet is.
Haar mede-beskuldigde, Smith, was ook vandag by die hofsaak. Sy is egter al verlede jaar op borg vrygelaat.
Sy is vandag deur die hof verskoon tot die verhoor, wat op 14 tot 25 November 2022 sal plaasvind, by die hooggeregshof in Polokwane.
Smith word aangekla van sameswering tot moord, terwyl Simoné bykomende klagtes van poging tot moord, moord, regsverydeling en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie in die gesig staar.
Daar is vandag getuienis aangehoor oor Simoné se geskiedenis van epilepsie.
Sonja Weideman, Simoné se regsverteenwoordiger, het aan die hof gesê dat Simoné net na die moord op haar man weer epilepsie-aanvalle begin kry het, nadat sy vir ’n tydperk opgehou het om haar medikasie te gebruik omdat sy nie meer aanvalle gekry het nie.
Weideman het aangevoer dat Simoné nie vir die duur van haar verhoor in aanhouding kan bly nie, omdat sy spesiale medikasie gebruik vir haar epilepsie.
A/o Debbie van Zyl, ondersoekbeampte, het egter getuig dat Simoné tydens haar inhegtenisneming sonder voorskrifte vir haar medikasie by die polisiestasie opgedaag het.
Sy het verder gesê dat Simoné ook in Februarie 2018 MedicAlert, ingelig het dat epilepsie verwyder kan word as bestaande siektetoestand, waarvoor sy ’n noodbandjie op haar arm gedra het.
Tydens ’n kort verdaging ná hierdie in die hof bespreek is, het Simoné, volgens Weideman, ’n epileptiese-aanval gehad. Ambulansdienste in die omgewing is gekontak, maar daar was geen ambulanse in hierdie tyd beskikbaar gewees nie.
Simoné het egter na die kort verdaging weer in die beskuldigdebank gesit, nadat sy aangedui het dat sy gesond genoeg is om die res van haar aansoek aan te hoor. Sy het, met haar kop gesak, in die beskuldigdebank gesit met n bottel water waaruit sy gedrink het.
Weideman het ook tydens die hofsaak gesê dat die twee redes wat as motief vir die moord op Raymond gesien word deur a/o van Zyl, nie van toepassing is nie, aangesien Smith en Simoné nie noodwendig vir Raymond uit die verhouding wou hê nie.
Sy beweer dat al drie in ’n liefdesdriehoek betrokke was en dat Raymond, Smith en Simoné saam in ’n verhouding was.
Volgens Weideman maak a/o Debbie se tweede rede as motief, dat Raymond vermoor is vir geld, ook nie sin nie, aangesien Raymond self die lewenspolis uitgeneem het by Absa, self betaal het en Simone as begunstigde genoem het.
A/o van Zyl het vroeër getuig dat Raymond geweet het dat Simoné hom probeer vergiftig het met ’n braaibroodjie op 9 Mei 2020, maar Weideman het dit teengestaan en gesê dat indien Raymond geweet het dat sy vrou hom probeer vergiftig het, dat hy nie die lewenspolis sou uitneem en Simoné as begunstigde genoem het nie, aangesien dié lewenspolis in Julie 2020 geopen is.
Weideman het ook in die hof gesê dat die vergiftigting nie bewys kan word nie, aangesien die braaibroodjie en die gif nooit getoets is nie.
Volgens a/o Van Zyl is ’n ooreenkomsbrief deur Simoné opgestel dat indien Raymond ontrouheid in hul huwelik wys en hul sou skei, Simoné verskeie waardevolle items soos ’n dubbelkajuitbakkie, skootrekenaar en selfoon, R8 000 per maand en twee jaggewere wil behou en ook dat sy steeds op Raymond se mediesefonds wou wees.
Weideman het egter uitgewys dat die eerste paragraaf van die brief nie deur a/o van Zyl gelees is nie, wat aandui dat Raymond reeds ontrouheid in hul huwelik getoon het, wat gelei het dat Simoné hierdie brief opgestel het.
Sy het aangevoer dat die ontrouheid volg ná Simoné glo op Raymond se internet soekgeskiedenis gesien het dat hy die volgende gesoek het: “Waar kan jy hoere en begeleiers in Groblersdal, Stoffberg en Limpopo vind?” “Hoe om vir jou vrou te sê dat jy ’n tweede vrou wil hê?” en “Hoe kan jy vir jou vrou sê dat jy nog ’n persoon in die bed in wil nooi?”
Weideman sê dat die brief deur Simoné opgestel is in ’n desperate poging van ’n vrou om haar huwelik te red.
A/o van Zyl het gesê dat Raymond disleksies wat, en dat hy nie baie goed gespel het nie, en dat daar te min spelfoute was in hierdie internet soekgeskiedenis om Raymond te wees wat dit getik het.
Japie Jonker, Raymond se oom, is ook na die getuienisbank geroep deur die landdros, mnr. Eliot Buthane, om meer duidelikheid te gee oor die kluis wat in die Papapavlou-egpaar se huis was.
Weideman sê dat Simoné beweer dat haar paspoort in die kluis is, wat tans by Raymond se pa, George Papapavlou, by sy huis in Middelburg is, en dat sy nie in besit is van haar paspoort of dit kan oorhandig aan die ondersoekbeampte nie.
A/o van Zyl beweer dat George Papapavlou nie ’n sleutel het vir die kluis om te kyk of die paspoort daar is nie en dat hy ’n slotmaker sal moet kontak om die kluis oop te kry.
Weideman het aan a/o Van Zyl gevra waar sy dan die ooreenkomsbrief deur Simoné oor ontrouheid in hul huwelik gekry het, aangesien Simoné beweer dat hierdie dokument in die kluis was.
A/o Van Zyl het gesê dat sy nie die ondersoekbeampte was op daardie stadium nie, maar dat dié dokumentasie by die misdaadstoneel aan die polisie oorhandig is.
Sy het ook gesê dat die kluis reeds uit die huis gehaal was toe sy oorgeneem het as ondersoekbeampte en die kluis by George Papapavlou by sy huis in Middelburg is.
Weideman sê dat die kluis aan die muur in die Papapavlou-egpaar se huis vasgebout was en dat die kluis oopgesluit moes word om die kluis vanaf die muur te verwyder, so iemand moes toegang tot die kluis gehad het op ‘n stadium.
Volgens Jonker, het die polisie op die toneel oor die vuurwapens gepraat, waarna hy vir sy skoonseun gevra het om die kluis oop te sluit.
Op die toneel het Simoné glo vir sy skoonseun gewys waar die sleutels na die kluis is.
Volgens Jonker, was daar nie paspoorte in die kluis wat hy kon sien nie. Hy sê hy het egter nie die items in die kluis deurgegaan nie, maar net van ’n afstand gesien dat daar ’n 100 Doller, dokumente, ’n liefdesbrief van Simoné aan Raymond, twee jaggewere en ammunisie in die kluis was.
Jonker sê dat die polisie op toneel vir hom gesê het om die vuurwapens na sy huis te neem, waarna hy dit in sy kluis by sy huis gestoor het.
Op 5 Oktober het die polisie die vuurwapens kom haal.
Die jaggewere is later weer aan Simoné oorhandig, en weer by die polisie ingedien tydens Simoné se arrestasie op 12 Augustus.
Jonker het ook gesê dat twee werknemers, sy skoonseun, Simoné en haar ma, na die Papapavlou huis toe is, waarna die huis opgepak is en die kluis van die muur afgehaal is, waarna hy alles by sy huis gestoor het en later na Raymond se pa se huis in Middelburg vervoer het.
Jonker sê dat sy skoonseun ’n stel sleutels aan die George Papapavlou gegee het.
Hy sê ook dat Simoné vir byna ’n week na die moord van haar man by hul gewoon het, waarna sy later by Raymond se ouers in Middelburg gaan woon het voor sy na haar ouers se huis in Bronkhorstspruit toe is.
•Simoné het ná haar hofverskyning Donderdag, 19 Augustus, ’n saak van algemene aanranding oopgemaak teen een van Raymond se familielede.
Die saak is egter vandag tydelik van die rol geskrap en die ondersoek duur voort.
