News

Covid baba met ambulans by apteek opgelaai

Die egpaar wat gevra het dat die land vir hul vyfweke oue babadogtertjie moet bid, wat vir haar lewe veg teen die Covid-19 virus, het vanmiddag hul harte oopgemaak teenoor www.mobserver.co.za.

Met ’n wegneemkos boksie kos nog op ’n tafeltjie in die sitkamer, wat getuig van nie lus wees vir kosmaak nie, nooi hulle die joernalis binne.

“Ons wil net soos normale ouers ons baba kan vashou,” sê Adela Malan met blink in haar oë.

“Dit maak nie saak hoe lank dit vat nie, sy moet net gesond word,” voeg haar verloofde, Christo Grobler, by.

Die paartjie word tans gelouter met emosies wat wipplank ry, vandat hul babadogtertjie, Milané, in die Life Midmed Hospitaal se intensiewe eenheid opgeneem is.

Baba Milané Grobler voor sy siek geword het.

“Die dokter kyk baie mooi na haar. Hy vryf so mooi saggies oor haar koppie as hy met haar werk. Hy doen alles menslik moontlik om haar te help. Julle moet vra dat almal bid vir hom en die susters. Hulle doen ongelooflike werk.”

Adela is ’n tipe 1 diabeet en hul prinsessie is op ’n 36 weke swangerskap gebore. Sy het ’n fris 4.6kg geweeg, maar omdat sy vroeg gebore is, het sy 10 dae in die neonatale intensiewe eenheid deurgebring.

Kleinding was net bietjie meer as twee weke tuis, toe sy skielik uit roetine uit langer slaap en hulle is met haar na ’n apteek.

Klein Milané het in die apteek blou geword en ’n ambulans ontbied. Adela het saam met die ER24 ambulans hospitaal toe gejaag.

’n Dag later het die nuus gekom, Milané het Covid-19.

Terwyl sy in die neonatale intensiewe eenheid was kort na geboorte.

“Haar aanvanklike X-strale het goed gelyk, maar oor die naweek het sy skielik sieker geword. Maandag se X-strale het soos ’n boom gelyk met die siekte wat haar liggaampie aangeval het.”

Adela sê dat Milané se linkerlong die ergste geaffekteer is en dat sy nou op ’n ossilator masjien is.

“Dit werk beter as die ventilator en hulle kon al die suurstof bietjie laer na 88% stel.” Hul baba is egter nog nie uit gevaar uit nie.

Milané word gehelp deur die susters.

“Ons vat nou babatreëtjies. Soms is dit 10 tree agtertoe en twee vorentoe. Maar sy is ’n klein vegtertjie. Milané is op hierdie aarde met ’n doel. Ek glo ons gaan hierdeur sodat ons nader aan God kon kom.”

Adela sê sy praat “met die Covid asof dit ’n persoon is. God is oor hierdie virus. Ons vertroue is net in God.”

Gisteraand is daar by die Cornerstone gemeente vir hulle en hul dogtertjie gebid en hou hulle vas aan die Boodskap wat gebring is, “dat die Here voor, langs, agter, onder, rondom, bokant, in en by ons is. Hy sal ons nooit verlaat nie.”

Een van die foto’s wat hulle geneem het toe sy na geboorte uit die hospitaal ontslaan is.

•Die paartjie het ’n Facebookblad vir hul baba geopen, genaamd “Gebede vir Baba Milané Grobler”, waar mense vir hulle boodskappe kan stuur.

“Ons kom net tans nie by alles uit nie.”

•Die foto’s wat verskaf is, is geneem kort na Milané se geboorte en toe sy in die neonatale eenheid was.

Adela met klein Milané op die skouer na haar geboorte.
Pappa Christo met sy dogter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button