News

Ma hou mosterdsaadjie vas én vermoorde seun se bril

Daar was geen emosie op Simoné Papapavlou se gesig nie, toe sy gehoor het dat haar borgaansoek suksesvol was.

Trane het gevloei by die vermoorde Raymond Papapavlou se familie met die aanhoor van die uitspraak.

Sonja Papapavlou, Raymond se ma, en Michelle Jonker, Raymond se tannie, het mekaar voortdurend styf vasgeklou terwyl die trane loop na die uitspraak.

Papapavlou het formeel voor landdros Eliot Buthane aansoek om borg in die Groblersdal Landdroshof gedoen, nadat sy haarself twee weke gelede op versoek aan die polisie oorgegee het.

Daar het skokkende inligting tydens die borgaansoek aan die lig gekom, soos die verdediging se bewering dat Papapavlou, haar mede-beskuldigde Patricia Ray-Lee Smith, en die moordslagoffer, in ’n verhouding betrokke was.

Die kwessie is egter nie deur landdros Buthane aangeraak in sy uitspraak nie.

Simoné Papapavlou staar emosieloos voor haar uit terwyl sy wag om haar borg te betaal.

Landdros Buthane het in sy uitspraak gesê dat hy tot aan die einde van die borgverhoor onverwonde was oor of borg toegestaan moes word of nie. Hy is van mening dat daar hoofsaaklik omstandigheidsgetuienis aangehoor is.

Dit tesame met die feit dat die verhoor eers oor meer as ’n jaar plaasvind, het hom tot die besluit gebring om borg toe te staan.

Landdros Buthane het gesê dat hy Papapavlou nie as vlugrisiko sien nie omdat dit aan hom duidelik was dat niemand, nie die staat of syself, weet waar haar paspoort is nie.

Hy het ook gesê dat hy nie haar epiliptiese aanval tydens ’n hofverdaging gister, kan ignoreer nie en het in ag geneem dat haar gesondheid nie goed is nie.

Papapavlou is R15 000 borg toegestaan. Sy moet Maandae en Vrydae by die polisiestasie in Bronkhorstspruit aanmeld en mag nie nader as 100 meter aan enige toeganspoort in en uit die land wees nie.

Papapavlou en Smith sal weer saam in die hooggeregshof in Polokwane verskyn op 14 November 2022, wanneer hul verhoor sal begin.

Simoné Papapavlou loop uit die hofgebou nadat sy op borg vrygelaat is.

Sy wou nie na hofverrigtinge kommentaar lewer nie.

Raymond se ma, Sonja, het na die verrigtinge gesê dat ‘God in beheer is’ en dat sy ‘elke dag vir Simoné se siel bid’.

Sy het met elke hofverskyning wat sy bygewoon het, ’n mosterdsaadjie om haar nek gedra en haar oorlede seun se bril in haar hand vasgehou. Sy het gesê dat die mosterdsaadjie ’n simbool van haar geloof is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button